Huis is waar die rivier is
Haar droom vir eendag is haar eie restaurant met ’n spyskaart wat sy saamstel uit bestanddele wat plaaslik geproduseer word.
Die spyskaart sal spog met vis, vrugte en ander bestanddele wat Moeder Natuur met ’n oop en vrygewige hand vir diegene gee wat langs die magtige Zambezi en in informele nedersettings verspreid al langs haar oewers woon.
Sharon Muyatwa se lewensreis het haar deur verskeie streke en dorpe – van Windhoek tot Swakopmund – geneem voordat die volle sirkel voltooi is en sy na die plek wat sy “huis” noem teruggekeer; ’n plek wat haar liefde vir die natuur en die mense van die Zambezistreek gevorm het.
Vandag is Sharon, wat oor ’n graad in besigheidsadministrasie van die Universiteit van Namibië (Unam) beskik, ’n assistentbestuurder by die Caprivi Mutoya Lodge & Campsite, sowat 40 kilometer van Katima Mulilo, waar sy in 1989 gebore is.
“Ek is op die vooraand van onafhanklikwording gebore en het dit met net ’n paar maande misgeloop,” lag Sharon.
Nadat sy haar skoolloopbaan op Katima Mulilo voltooi het, het Sharon na Windhoek verhuis om vir haar graadkursus aan Unam in te skryf. Met haar graad in haar hand was haar eerste voltydse werk by Woermann Brock Supermarket. Op soek na nuwe horisonne en geleenthede, het sy die hoofstad vir die kus verruil en twee jaar lank in Swakopmund gewoon.
In 2018 keer sy uiteindelik na haar hartsplek en wortels terug.
“My eerste werk toe ek weer terug by die huis was, was as ’n toesighouer vir menslike hulpbronne by Zambezi Built-It, voordat ek myself hier bevind het waar ek as ontvangsdame begin het,” vertel Sharon.
Buiten dat sy weer by die huis is, is die streek soos geen ander van die plekke waar sy voorheen gebly het nie, sê sy.
“Dit is totaal anders – die fauna, die lug, die water.”
Sy erken Windhoek is mooi, maar die geraas het mettertyd vir haar te veel geword. Swakopmund was wel stiller, maar die koue was ’n uitdaging vir iemand wat gewoond aan die Noorde se hitte was.
“Hier is net huis,” sê sy.
Een van die voordele daarvan om in die toerismebedryf te werk, is die geleentheid om mense van oraloor die wêreld te ontmoet. Die een dag is dit Duitsers, die volgende Italianers en later miskien besoekers uit China.
“Jy weet nooit wie jy volgende gaan ontmoet nie. Vandag het ons ’n bus vol toeriste gehad en soms kry jy ’n Duitse egpaar wat saam met besoekers uit Indië reis. Elkeen het ’n storie,” sê Sharon.
Die mense van Katima Mulilo en die omliggende gebiede is “gelukkige, hulpvaardige mense”, sê sy trots. Tog is sy bekommerd oor die druk wat op die natuurlike omgewing geplaas word.
“Ons vernietig ook soms die natuur.”
Baie van die mense wat langs die oewers of ’n paar treë daarvandaan woon, maak grootliks op bome vir hul lewensbestaan staat.
“Ons bou met ons bome. Ons gebruik dit vir hout en om krale te bou, maar ons moet ook leer om dit wat ons vat, te vervang. Ons is baie in voeling met die natuur, maar soms vernietig ons dit ook.”
Die lewe in die Zambezi is nou verbind met die rivier. Plaaslike vissers is vir hul oorlewing van die rivier afhanklik en vang vis om te verkoop en hul families te onderhou.
Die probleem, sê Sharon, is daar word die hele jaar visgevang en dit laat weinig tyd vir die visbevolking in die rivier om te herstel.
“’n Paar jaar gelede het die regering deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme ’n geslote seisoen van Maart tot September gehad waartydens niemand toegelaat is om vis te vang nie.
“Om een of ander rede het dit die afgelope drie jaar gestop en nou vang almal vis.”
Dis ontmoedigend om die klein vissies te sien wat in nette gevang word en by markte verkoop word, sê Sharon.
Die werklikheid van die impak het tot haar deurgedring toe haar graad 7-dogter haar onlangs gevra het wat ’n tiervis is – ’n spesie wat sinoniem met die Zambezi is.
“Ek het toe besef sy het nog nooit een gesien nie en nie geweet wat dit is nie. Dis ’n kind wat 13 jaar oud is en sy het nog nooit ’n tiervis gesien nie.”
As haar kind nog nooit een gesien het nie, vrees Sharon gaan toekomstige geslagte ook nie die voorreg hê nie.
“Hulle sal dit moontlik net eendag in ’n visdam sien, maar dit is nie dieselfde as om te sien waar dit oorspronklik vandaan kom nie.”
Hoewel sy daarvan hou om met mense te werk en net so gemaklik agter ’n lessenaar is, droom Sharon steeds daarvan om eendag haar eie restaurant te hê. Hoewel sy nie ’n sjef is nie, is sy lief vir kook.
“Ek mag dalk by ’n kulinêre skool inskryf en iets skep wat op plaaslike cuisine fokus.”
Oraloor noordelike Namibië bedien plaaslike restaurante die kos waarmee mense grootgeword het, sê Sharon.
“Ons is meestal bekend vir ons Zambezi -‘bream’ en ons het verskillende tipes boerenkool (kale). Sommige is dwarsdeur die jaar beskikbaar en ander maak net hul verskyning tydens die reënseisoen. Ons het iets uniek vir elke seisoen.”
Vir nagereg sal daar die vrugte van die jakkalsbessieboom wees, wat in die winter stroopsoet is.
“Ek sê vir my kinders dit is die natuur se lekkers. Jou tande sal nie sleg van dit word nie. Dit is gesond en ’n geskenk van die natuur.”
Sou haar droom van ’n eie restaurant eendag ’n werklikheid word, weet Sharon presies wat op haar spyskaart gaan wees: Die geure van ’n streek waarvan die riviere deur haar are vloei en onder wie se bome sy nog altyd haar huis gevind het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie