Herrie oor Sossusvlei verskerp
Die herrie oor die nuwe toegangsregulasies na Sossusvlei en Dooievlei het verskerp, met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme wat teruggekap het teen bewerings dat dit die bepalings van sy konsessieooreenkoms van 2024 verander het.
In reaksie op vrae wat deur die Toer- and Safari-vererniging van Namibië (Tasa) geopper is, het die ministerie bevestig dat die kontrak wat in Februarie 2024 toegeken is, onveranderd en nie-eksklusief bly.
Die ministerie se woordvoerder, Vilho Hangula, het beklemtoon dat geen wysigings of omskakelings ná die aanvanklike toekenning aangebring is nie en sodoende die kommer wat deur rolspelers in die bedryf geopper is, direk betwis.
In die middel van die teenstrydigheid is nuwe reëls wat op 1 Mei 2026 in werking sal tree.
Hierdie regulasies verbied selfry-toegang verby die 2x4-parkeerarea by Sossusvlei en vereis dat besoekers op gemagtigde pendeldienste staatmaak om Dooievlei te bereik.
Volgens die ministerie sal slegs twee kategorieë operateurs toegelaat word om hierdie dienste te lewer: Grow Namibia, wat handel dryf as About Deadvlei Sossusvlei Management, en geregistreerde toergidse in diens van lodges in en om die Namib-Naukluft Nasionale Park.
Ten spyte van die beperking op selfry, hou die ministerie vol dat die konsessie nie-eksklusief bly. Lodges wat in en om die park bedryf word, sal steeds toegelaat word om hul eie gaste met 4x4-voertuie na die Dooievlei-parkeerarea te vervoer, in ooreenstemming met die oorspronklike ooreenkoms.
Hangula het verder beklemtoon dat die nuwe maatreëls met die ondertekende kontrak strook en nou ten volle geïmplementeer sal word. Die ministerie het ook na Artikel 17 van die Natuurbewaringsordonnansie 4 van 1975 verwys, wat die minister bemagtig om te bepaal wie dienste binne beskermde gebiede mag lewer.
Tasa het egter die ministerie se standpunt sterk betwis en gewaarsku dat die nuwe regulasies wat hierdie week aangekondig is, neerkom op ’n eksklusiewe pendelreëling. In ’n amptelike brief aan die ministerie het Tasa aangevoer dat die oorspronklike versoek om voorstelle duidelik tussen eksklusiewe en nie-eksklusiewe regte onderskei het – met eksklusiwiteit slegs vir die ontwikkeling en bedryf van ’n kampeerterrein en kiosk – terwyl dit uitdruklik gestel het dat pendeldienste tussen die 2x4-parkeerarea en Dooievlei nie-eksklusief sou bly.
Die vereniging wys verder op vorige verklarings van die ministerie van September 2024 en Desember 2025, wat operateurs verseker het dat selfry-besoekers en geregistreerde toermaatskappye steeds met geskikte voertuie toegang tot die 4x4-parkeerarea sou hê. Hierdie versekering, het Tasa gesê, was in lyn met lank gevestigde praktyke binne die park.
“Die nuwe openbare kennisgewing verteenwoordig ’n beduidende afwyking van die tenderraamwerk en die ministerie se eie openbare bevestigings,” het die vereniging verklaar.
Die organisasie het bygevoeg dat operateurs internasionale besprekings en logistieke beplanning op daardie verbintenisse gegrond het.
Tasa het ook kommer uitgespreek oor ’n gebrek aan betrokkenheid en onthul dat ’n amptelike versoek vir ’n vergadering met die toerismeminister, Indileni Daniel, wat in Februarie 2026 ingedien is, onbeantwoord gebly het. Die versoek het ’n reeks kwessies gedek, insluitend konsessiebestuur en toegang tot sleutel-toeristebestemmings.
Die vereniging het gewaarsku dat die afwesigheid van konsultasie en kommunikasie wydverspreide onsekerheid in die toerismesektor geskep het, plaaslik sowel as internasionaal.
Dit het gesê dat die teenstrydige amptelike verklarings – van Desember 2025 en April 2026 – die verwarring vererger het en vrae oor prosedurele billikheid en administratiewe konsekwentheid laat ontstaan het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie