HAN pleit vir beter internet in afgeleë gebiede
Die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN) het opnuut vir dringende ingryping gevra om swak telekommunikasiedienste in afgeleë toerismegebiede te takel.
HAN se uitvoerende hoof, Gitta Paetzold, het gesê die probleem raak toerisme-ondernemings, gasteplase, lodges en die landbousektor landswyd.
“Toerisme is afhanklik van konnektiwiteit,” het sy benadruk en bygevoeg dat Namibië agterweë raak by mededingende bestemmings in die streek wat betref die beskikbaarheid, spoed en bekostigbaarheid van internet- en kommunikasiedienste.
Die vereniging het gesê betroubare internet het ’n noodsaaklike deel van die toerisme-ervaring geword, met akkommodasie-ondernemings wat op konnektiwiteit vir besprekings, kommunikasie met gaste, aanlyn betalings, bedrywighede en internasionale bemarking staatmaak.
“Dit is nie ’n poging deur ons as HAN of die toerismebedryf om vingers te wys nie, maar ’n dringende nasionale beroep op ons as Namibiërs om te verseker dat hierdie pragtige land aan die verwagtinge van ons kliënte voldoen – ten minste deur die wêreldwye status quo van konnektiwiteitstandaarde te ewenaar waaraan eindgebruikers gewoond is.”
Sy het gesê die tydsberekening is besonder kritiek aangesien Julie die begin van Namibië se piekseisoen vir die toerismesektor is.
Paetzold het ook daarop gewys dat drie internasionale lugrederye bykomende vlugte na Namibië aangekondig het om aan die groeiende toerismevraag te voldoen, wat dit des te belangriker maak om te verseker dat ondersteunende infrastruktuur daarmee tred hou.
“Dit onus rus nou op al die betrokke diensverskaffers, insluitend ons telekommunikasiediensverskaffers, om by te dra tot die nasionale poging om Namibië se aansien en mededingendheid as ’n bestemming van keuse te bevorder.”
HAN het het volgens Paetzold die kwessie reeds middel April by Telecom Namibia en MTC op die tafel geplaas, maar sedertdien min vordering gesien.
“Telecom Namibia het slegs ontvangs van HAN se aanvanklike korrespondensie erken en aangedui dat die saak oorweeg sou word, terwyl MTC later spesifieke GPS-koördinate en betrokke selfoonnommers versoek het waar konnektiwiteitsprobleme voorkom.”
Sy het gesê die versoek het eers na herhaalde opvolgaksies gekom, insluitend 'n derde herinnering aan die einde van Mei.
Om die omvang van die probleem aan te dui, het HAN een van sy lede – ’n luukse lodge wat op internasionale besoekers ingestel is – gevra om bewyse van uitdagings van konnektiwiteit te verskaf. Die lodge het dokumentasie ingedien wat diensmislukkings uiteensit, asook historiese data-gebruiksrekords wat ’n beduidende afname in diens oor tyd toon.
HAN het beide MTC en Telecom Namibia versoek om die saak as ’n dringende kwessie te hanteer en gewaarsku dat voortgesette uitdagings vir konnektiwiteit die risiko loop om gastetevredenheid, sakebedrywighede en Namibië se beeld as 'n wêreldklas-toeristebestemming te benadeel.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie