Gerhardus se reise: ’n Afrikaner ‘in transit’
Van Singapoer tot die Voortrekkermonument
Ek het my Afrikaner-identiteit bedink tydens 'n onlangse reis van Beijing na Windhoek.
Ek is nie ’n trotse Afrikaner nie. Die Dertigers, as literêre beweging, het in ’n dekade probeer doen wat ander kulture oor eeue bereik het.
Kan N.P. van Wyk Louw se epiese gedig "Raka" werklik vergelyk word met sy Engelse eweknie Beowulf (ongeveer 1 000 n.C.)? Literêr dalk, maar taalkundig het Engels ’n duisend jaar voorsprong. Ai, dan die T-hempies: “Praat Afrikaans of hou jou bek.”
Ek het my Afrikaner-identiteit bedink tydens ’n onlangse reis van Beijing na Windhoek. Ek moes ’n hele dag in Singapoer en ’n dag in Johannesburg deurbring. In albei stede het ek vriende ontmoet en dié ervarings het my laat heroorweeg dat Afrikaners meer is as nalaters van apartheid of sprekers van ’n kombuistaal.
Ek land in Singapoer, by die Changi-lughawe wat as die beste ter wêreld beskou word. Orals is daar matte, plante en kunswerke. Dit voel soos ’n reuse-sitkamer. By immigrasie is daar geen personeel nie. ’n Skerm lees jou paspoort, ’n kamera neem ’n foto en ’n masjien skandeer jou vingerafdrukke. Binne drie minute is ek deur, sonder enige rye.
Een van die wonders van die lughawe is The Jewel – ’n sentrum tussen twee terminale. Dit huisves talle restaurante en winkels in ’n oerwoud met ’n lewensgroot vorteks-waterval in die middel. Dié binnenshuise waterval is die grootste ter wêreld, omring deur meer as 2 000 bome en 10 000 plante.
Ek ontmoet my vriendin Maggie by my hotel in die middestad. Sy is my gids vir een aand in Singapoer. Maggie is oorspronklik van Maleisië, maar woon al byna 20 jaar in Singapoer. Ons neem ’n bus na Marina Bay, waar die poskaartbeeld ontvou: die Marina Bay Sands Hotel met sy SkyPark wat soos ’n skip op drie torings rus, die wit lotus en die Merlion – ’n leeu met ’n visstert wat water in die baai spoeg.
SINGAPURA, LEEUSTAD
Die Merlion is Singapoer se nasionale simbool, geïnspireer deur ’n 14de-eeuse legende van ’n prins wat ’n leeuagtige dier op die eiland gesien het. So het die naam Singapura ontstaan – Leeustad.
Maggie stel voor ons eet straatkos by ’n kosmark naby Marina Bay. Sy bestel ’n oester-omelet en saté. Saté is ’n Suid-Oos Asiatiese gereg van gemarineerde vleis wat oor kole gebraai word. Voor ons is ’n geel plastiekbordjie met bees-, skaap- en hoender-saté. Komkommer, rooi ui en piesangblaar-gestoomde rys is die bykos. Ek neem die eerste hap. . .
In die humiditeit, tussen vreemde mense en moderne geboue, proe ek huislike smake. Geure van blatjang, bobotie en basaarsosaties vang my heel onkant. Ek is baie bewus van die Maleisiese en Indonesiese invloed op ons Afrikaner-palet, maar die beduidende kenmerkendheid was totaal onverwags! Ek raak liries en begin met Maggie oor Afrikaanse kos te gesels. Sy erken ‘n foto van koeksisters op my selfoon. Ons begin woorde uitruil: piesang, blatjang, baklei, baie. Piesang is die enigste woord wat nog presies dieselfde is in beide tale.
Ek onthou H.W. Claassens se PhD-verhandeling Die Geskiedenis van Boerekos 1652–1806. Sy voer aan dat Afrikanerkos wortels het in Persies-Arabiese kookkuns wat Europese resepte beïnvloed het en via die Hollanders en Franse na die Kaap gekom het. Bobotie was glo al deel van die antieke Romeinse kookkultuur en koeksisters ’n Italiaanse gereg. Sy betwis dat Oosterse slawe die hoof-invloed was.
Langs Marina Bay worstel ek met Claassens se uitgangspunt. Haar navorsing het waarde, want ek weet dat geurmiddels soos suiker, gemmer, komyn en naeltjies al deel was van Middeleeuse Engelse kookkuns. Europese koskultuur het eers in die 18de eeu begin vorm kry soos ons dit vandag ken. Tog, wat ek proe in die oomblik skets ‘n ander prentjie. Ná verdere oplees sien ek dat verskeie studies Claassens se werk uitdaag, en dat daar genoeg navorsing is wat bevestig: Boerekos is wel grotendeels beïnvloed deur die Maleisiese slawe. Wie sou kon dink jou tong kan “time travel”?
Vroegoggend in Johannesburg ontmoet ek vir Eon en Holger – toevallig is ons almal op dieselfde dag daar. Hulle kom uit Switserland en Eon wil graag die Voortrekkermonument besoek. Ek was 16 jaar gelede saam met my ouma daar, maar het destyds nie veel daarvan gedink nie. Om kaalvoet oor ‘n bergreeks te wil neuk, grens vir my nader aan dwaas as aan dapper.
VOORTREKKER-MONUMENT
Die hele atmosfeer van die monument het verander. Dit oorskadu nie meer besoekers met nasionalistiese verwaandheid nie. ’n Tannie in ’n Voortrekkerrok brou koffie langs ’n ossewa en groet vriendelik. ’n Dame van kleur, ook met ’n kappie, verduidelik die uitleg van die perseel en wys ons die pad na die monument. Ek waardeer die inklusiwiteit.
Ons besoek die museum. Die dolosse in die vertoonkas herinner my aan my kleintyd op die plaas – modderkoekies, draadkarre en kleidiertjies wat in die son droog word. Net daar ervaar ek wat erfenis werklik is: Dit is nie ‘n trotse, willekeurige aanneming van ‘n kultuur of narratief nie. Dit is eerder dat opvoeding, omgewing en blootstelling jou instaat stel om met kulturele merkers te vereenselwig. Erfenis is nie ‘n keuse nie. Dit is ‘n verwysingsraamwerk waarin die heelal jou ingedompel het.
Om by die monument uit te kom, stap ’n mens deur die FAK-liedjietuin, waar borde met ou liedjies soos "Mandolientjie", "Die wandelaar" en "Bobbejaan klim die berg" tussen aalwyne staan. Ek en Eon het mekaar as studente in die konservatorium ontmoet, so ons sing ’n paar liedjies saam. Ná die liedjietuin volg ’n digterstuin, waar ek vir die eerste keer in jare weer "By Bloukrans" van Leipoldt lees. Die gedig verwyder die menslike element van Bloedrivier. Ek hou daarvan.
Die monument self is nou meer toeganklik vir almal – selfs Mandaryns verskyn by die onderskrifte van die gebou en artefakte. Besoekers van alle agtergronde voel welkom.
Binne die monument is daar ’n indrukwekkende Pierneef-uitstalling, en ek waardeer die Voortrekkerlewe-tapisserie meer as voorheen. Ek staan lank voor die uitbeelding van kos en huishoudelike items. Die hangende biltong herinner my dat beskuit ook uit die trekkery ontstaan het. Beskuit maak my gelukkig. Veral my pa s’n.
Ná baie geskiedenis en kultuur, smul ons aan koeksisters, Peppermint Crisp-tert en koffie. Ons herkou ons ervarings: Wat dit beteken om Afrikaans te wees?
My gevolgtrekking is dat Afrikaner-identiteit veelvlakkig is. Jy is jou eie kurator. Ons kultuur is ‘n lewende proses wat gevorm is deur ’n samekoms van gebeure. Broodkrummels van ons spogkos lê in wêreldstede soos Singapoer. Al stem ek nie met H.W. Claassens saam nie, erken ek dat sekere van ons koskenmerke ooreenstem met vroeë Europese kookkuns. Ons identiteit strek verder as Jan van Riebeek – ons erfenis is eeue oud, met wortels in die Ooste én die Weste. Nou, hierdie werk vir my! Ek is ’n trotse, inklusiewe, kosmopolitaanse Afrikaner. En, ek trek my skoene aan wanneer ek gaan bergklim.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie