Gerhardus se reise – Hoffie se droom

Ek leef in stories, beelde en herinneringe
Bamberg staan bekend as 'Klein Rome', omdat die stadsuitleg Rome se voorbeeld volg: gebou op sewe heuwels, elk gekroon met 'n kerk, klooster of kapel.
Pssst! Hallo, Jy. Ja, jy... wat sit en lees.

Hoor jy dit? Die klop-klop? Nie? Dan is dit in my kop.

’n Tragiese gevolg van Bacchus se oorvloed. Dit kom van laataand skrywe wat vloei uit bekers en bekers wyn. O, die wingerd! Lote van vreugde en are van jolyt, in ’n wêreld bleek en somber, ’n tronk vol verwyt!

Ag, jammer man, laat ek myself eers voorstel: ek is E.T.A. Hoffmann – skrywer en komponis van die Duitse Romantiek. Noem my sommer Hoffie. Jy is in my droom. Ek leef in stories, beelde en herinneringe. Ek droom deur die verlede én hede, soms vasgevang in die sagte kettings van Bamberg – ’n hekseketel van fantasie waar kloosterstandbeelde geheime fluister met die asem van huilende wind. As ek maar net van stories kon leef, in plaas van brood.

Ek het gesukkel in Bamberg. Ná ek in 1806 my werk as regsbeampte in Warschau verloor het weens die Napoleaanse Oorlog, het ek met die hoop om komponis en dirigent te word, hierheen verhuis. In 1808 is ek as musiekdirekteur by die Bamberg-teater aangestel, maar toe die teater bankrot speel, is ek aan die klanke en ritmes van die straat oorgelewer. Ek het in ’n klein huisie in Eisgrubestraat gaan woon en musieklesse gegee om kop bo water te hou.

Hier het ek sotverlief geraak op een van my studente, Julia Marc. Sy is die roos van Bamberg, ’n bloeisel tussen klip. In my het sy net ’n klein mannetjie gesien: deurmekaar hare, ’n haakneus. Verlore liefde – daardie goddelike kuns om te begeer én te verdoem.

Met my dwaalhart het ek tussen die kronkelstegies van Bamberg, die katedraal se plegtige torings, die rivier se sagte kromming, my beste werk gelewer. Ek nooi jou uit om my te vergesel op ’n staptoer deur die Bamberg wat vandag nog staan. Dit is ’n stad wat my siel gevange hou met sy argitektuur, muurskilderye en beierende klokke. Welkom!

Kom ons begin in Eisgrubestraat, hier waar my klein huisie staan. Wees versigtig oor die keistene – sommige staan uit en kan jou laat struikel.

Sien jy daardie pienk gebou, huisnommer 14? Kyk van nader na die deurknop; ’n brons gesig wat glimlag. Ek het haar die “appelwyf” gedoop. In een van my bekendste verhale, Die Goue Pot, sien die protagonis Anselmus die gesig van ’n ou appelverkoper in ’n deurknop en val flou van skrik. Haar oë gloei soos vuur, haar mond ’n smal grynslag toe sy Anselmus se vrees sien. Ek giggel steeds as ek aan arme ou Anselmus dink.

Kom ons stap af na die Regnitzrivier, wat die oudorp middeldeur sny. Sien jy hoe min moderne geboue hier is? Bamberg is een van die min stede in Duitsland wat sy oorspronklike middeleeuse strukture behou het. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is meeste van Duitsland se ou wêreld platgebom, maar toe die Geallieerdes Bamberg moes bombardeer, het die 11de eeuse keiserin Kunigunde – later ’n verklaarde heilige – haar sluier van mis oor die stad getrek. Die vlieëniers kon nie die stadsliggies sien nie en so het die bomme meeste van die stad gemis. Vandag staan 13de en 14de eeuse bakkerye en brouerye steeds – danksy Kunigunde.

Hier is ons by die rivier! Daardie huisie wat oor die water hang, is deel van die ou raadsaal, wat op ’n kunsmatige eiland tussen twee brûe gebou is. In die 14de eeu het die biskop geweier om grond aan die burgers af te staan en hulle het toe hul raadsaal in die rivier opgerig.

In die 18de eeu is dit in Rokoko- en barokstyl herbou, met fresko’s op die buitemure deur Johann Anwander, geskilder in 1755. Ek stap graag hier – omring deur soveel skoonheid en kreatiwiteit.

Hierdie historiese kuns en argitektuur is vir almal toeganklik. Deesdae vorm dit deel van studentekuiers. In somersaande net voor skemer, vergader Otto Friedrich-universiteitstudente op die brug, elk met ’n goedkoop bier of twee. In kortbroeke en plakkies gesels, skerts en lag hulle hardop. Die kabbelende water is agtergrondmusiek, die sonsondergang skep stemming en die fresko’s waak stil oor jeug en samesyn.

Ek is nou self lus vir ’n bier. Hierdie nadors begin nou te knaag. Kom ons kry sommer een op pad na die Bamberg Dom. Teen die voet van die katedraal is die Schlenkerla-rookbierbrouery. Die eerste skriftelike aantekeninge oor hierdie brouery dateer uit 1405. Daar’s nege historiese brouerye in die oudorp, maar wat maak hierdie een spesiaal?

Wel, vat ’n slukkie... dit proe soos gerookte spek. Ja, regte egte ontbytspek! Hierdie kenmerkende geur kom van die tradisionele metode om mout oor oop vlamme te droog. In die Middeleeue het hulle die mout per ongeluk te lank oor die vuur gelos en sodoende het dit daardie unieke smaak aangeneem. ’n Ongeluk wat die brouery toe maar as handelsmerk gebruik het.

Sal ons aanstaltes maak? Die Bamberg Dom is net op in die straatjie – die sentrale katedraal van die stad, waarvan die konstruksie reeds in 1004AD begin het. Die torings krap teen die hemel en die stene koester 1 000 jaar se stories: verraad, owerspel, brandstapels met hekse, dalk ’n onopgeloste moord. Daar is vele ander kerke met ryk geskiedenis en argitektuur. Bamberg staan immers bekend as “Klein Rome”, omdat die stadsuitleg Rome se voorbeeld volg: gebou op sewe heuwels, elk gekroon met ’n kerk, klooster of kapel.

Laat ek jou in die Bamberg Dom invat, want daar wag ’n ou vriend van my: die Bamberg Ruiter. Hierdie hoë sandsteenfiguur van 2,3 meter uit die 1230’s is gehul in raaisel. Niemand weet wie hy is nie, waar hy vandaan kom nie, of hoekom hy steeds wag nie. Sy kalm gelaat en effense glimlag is opvallend naturalisties vir 13de eeuse-kuns.

Wat ons wel weet, is dat die statige ruiter se blik rus op die plek waar Pous Clemens II begrawe lê, diep in die hart van die dom. En natuurlik, dat hy en sy perd al vir byna 800 jaar elke Sondag in die kerk is.

Die ruiter knik vir ons. Hy vra, “bly net ’n oomblik”. Die Dom hou sy asem op. En vir ’n paar sekondes – miskien minder – leef alles: die glas, die lig, die beelde en kandelare.

Ek weet dis tyd. My droom is besig om terug te vou in jou werklikheid. Maar voor ek gaan, vat my hand. Ruik die klip. Die wierook. Kyk hoe die son deur die vensters breek. Luister na die stilte. Voel hoe die koue uit die klipskadu’s saggies aan jou wang raak.

Ek groet jou in hierdie oomblik van heiligheid. Jy sal my weer vind in musiek, stories en wyn. En, wanneer jy droom, droom van Bamberg... waar heiliges en hekse al eeue lank saam stories in steen skryf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer