CST 2026: Die gesprek begin
Die eerste Creative.Sport.Tourism (CST)-ekspo het die begin van ’n nuwe hoofstuk vir Namibië ingelui.
Die ekspo bou voort op die fondament van die vorige, gewilde Toerisme Ekspo, met die nuwe konsep wat nou uitgebrei het om meer sektore as net toerisme in te sluit, naamlik die kreatiewe- en sportbedryf. Laasgenoemde het baie meer in gemeen met toerisme as wat ’n mens met die eerste oogopslag sou dink.
CST, die breinkind van Emeraldsand Platforms (ESP) is geskep met die fokus op die kragtige konsep dat toerisme, sport en kreatiwiteit nie in isolasie bestaan nie. Saam kan dit gemeenskappe versterk, ekonomieë stimuleer en nuwe geleenthede skep.
ESP se uitvoerende direkteur, Nangula Nelulu Uaandja verduidelik deur dié sektore saam te bring, “ontsluit ons kragtige sinergieë wat vernuwing kan aanvuur, entrepreneurs kan bemagtig en betekenisvolle werksgeleenthede kan skep – veral vir ons jeug”.
Oor die verloop van drie dae het die Hage Geingob-stadion in Windhoek gedien as ’n spilpunt en ’n ontmoetingsplek vir idees, mededinging, vermaak en gesprekke.
Die kreatiewe sektor het vir kleur en energie gesorg met van mode en komedie tot musiek en optredes deur kunstenaars soos onder meer Big Ben, Suzi Eises, Lioness, Gazza, Mampi van Zambië, Tamy Moyo van Zimbabwe en Oscar Mbo van Suid-Afrika.
Verskeie slypskole is ook aangebied waar relevante kwessies soos “Die Kreatiewe Sektor: Wat is die potensiaal daarvan en wat beteken dit vir die ekonomie?, asook “Die ontwikkeling van Namibiese/streek- en wêreldklasboeke en -outeurskap” ingesluit het.
Sport was nie net ’n besprekingspunt nie, maar ook ’n aktiewe deel van die CST Ekspo, met van basketbal, sokker, rugby, vlugbal en skaak wat deel van die daaglikse program was. Dans- en liggaamsboukompetisies het ook tydens die drie dae plaasgevind.
Besprekings het “Verder as die veld: Loopbane in sokker”, asook “Para-Taekwondo en konvensionele Taekwondo: Begrip vir die verskille en inklusiwiteit” ingesluit.
Een van die mees onvergeetlike oomblikke tydens die ekspo was tydens ’n slypskool vir rots- en bergklim waar sprekers letterlik na ’n ander vlak geneem is deur van die dak van die stadion af te seil.
Dit het perfek gewys waarom kreatief, sport en toerisme bymekaar hoort: Sport ontmoet toerisme, avontuur word ’n ervaring en ’n ervaring word ’n storie wat die moeite werd is om te deel.
Toerisme het die driedaagse “gesprek” afgerond deur middel van slypskole wat Namibië se geleenthede en toekoms verken het.
Besprekings het onder meer op rotsklim, sterrekunde en Namibië se diamantreis gefokus, asook om die land as ’n gesogte toerismebestemming te bemark.
In die ESP-sitkamer en -tent is Enjoy Travel ondersteun deur sewe vennote in toerisme – Abenab Lodge, At Kronenhof Lodge, Hotel Thule, die N/a’an ku sê Collection, Norotshama River Resort, Otjibamba Lodge en The Farmhouse Boutique Guesthouse – wat elk hul ondernemings ten toon gestel het en ook spesiale aanbiedinge tydens die CST Ekspo aangebied het.
Ook deel van die ESP-sitkamer is Logistics Hub Namibia, Print Digital Hub, die Synergi-groep en ESP Magazines bymekaargebring, wat ’n ruimte geskep het vir besighede om met mekaar te skakel en idees te deel.
Vir Enjoy Travel het een van die ekspo se kernbesprekings gefokus op Beyond Bookings en wel wat die Enjoy-platform vir Namibië beteken.
Die paneelbespreking, gefasiliteer deur Carli Abrantes, het die volgende deelnemers ingesluit: Eva-Rakel Johannes, groep-handelsmerk- en bemarkingsbestuurder van die N/a’an ku sê-groep; Tjaard Venter, eienaar van At Kronenhof Lodge en Enjoy se heel eerste kliënt; en Simon Williams, bestuurder van Otjibamba Lodge.
Die gesprek was breër as net die tegniese sy van besprekings en het gefokus op iets wat in die moderne wêreld van toerisme al hoe belangriker word: sigbaarheid.
“As niemand weet wie jy is nie, ken hulle nie jou waarde nie,” het Johannes gesê.
Die paneel was dit eens dat reisigers al hoe meer emosionele band met ’n bestemming soek, voordat hulle besluit om wel hier te bespreek. Die manier waarop ’n plek sy storie vertel, is belangrik, met televisie, digitale media, sosiale media, joernalistiek en vennootskappe wat elkeen ’n rol hierin speel.
Ons het soveel pragtige stories om te vertel en platforms soos Enjoy word deel van ’n breër gesprek oor toerismebemarking, het Johannes verduidelik.
Dit is duidelik dat, hoewel besprekings steeds belangrik is, dit ook noodsaaklik is om sigbaar te wees, om verstaan te word en maklik gevind te word. Vennootskappe stel besighede in staat om stories te deel, nuwe gehore te bereik en saam te groei.
CST het gewys dié drie verwante sektore hoef nie elkeen in ’n afsonderlike wêreld te bestaan nie. Toerisme kan by sport leer. Kreatiwiteit kan lewe in bestemmings blaas. Sport kan reisgeleenthede skep. En deur die storie saam te vertel, word dit met mekaar verbind.
En as die CST Expo die eerste stap was in die rigting van die eerste gesprek, is dit beslis die moeite werd om seker te maak dat jy die volgende een bywoon.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie