Boek oor roofdiere se bewaringstatus gepubliseer

Roofdierwerksgroepe die volgende stap
Die nasionale opname van roofdiere se bewaringstatus bied leiding aan bewaringsaksies spesifiek binne Namibiese omstandighede.
Elvira Hattingh
Namibië is een van die belangrikste vestings vir roofdiere soos die swartpootkat, bruin hiëna en jagluiperd, wat meestal in droë omgewings floreer.

Daarteenoor word elf spesies roofdiere as as minder of meer bedreig in Namibië beskou. Dit sluit in vyf katspesies, twee hiëna-spesies, die Afrika-wildehond, twee otterspesies asook die Afrika- gestreepte wesel.

Dit blyk uit die nuut gepubliseerde Carnivore Red Data Book, wat die jongste wetenskaplike inligting bevat oor die bewaringstatus van Namibië se 34 roofdier- of karnivoorspesies op land.

Hierdie is maar slegs die tweede rooidataboek wat oor die fauna van Namibië gepubliseer is – die eerste was in 2015 oor voëls, genaamd “Birds to Watch in Namibia: Red, Rare and Endemic Species.”

Die skrywers van die boek verduidelik in ‘n verklaring dat Namibië se droë omgewing van nature minder roofdiere kan huisves as ander Afrikalande, maar dié vesting is vir van die diere wat in droër omgewings floreer.

Die nasionale opname gee leiding vir bewaringsaksies binne Namibiese omstandighede.

Die drie mees algemene bedreigings vir Namibië se karnivore is mens-dier-konflik, byvangste en habitat-verwante bedreigings.

NOG ROLSPELERS

Terwyl die boek ‘n wetenskaplike blik op karnivore bied, is ander perspektiewe nodig om bewaringsaksies vir die diere te ontwikkel. Boere, bewaringslede en jagters is sleutelrolspelers, omdat hulle in die voorste linie staan as dit by die bestuur van roofdiere kom.

Dienooreenkomstig sal navorsingsinstansies ‘n roofdierwerksgroep saam met hierdie belangegroepe en bewaringsorganisasies vorm, wat onder die voorsitterskap van die minister van die omgewing, bosbou en toerisme sal val.

Die hoofdoel van die werksgroep sal wees om aksieplanne vir bewaring te ontwikkel en toe te pas asook om ‘n navorsingsagenda te skep sodat kennis oor die land se roofdiere verbeter kan word.

Die boek bied dus ‘n beginpunt vir talle bewaringsaksies en toekomstige uitgawes kan aandui of daar vordering gemaak word in die bewaring van die land se karnivore.

Die nuwe boek is ‘n gesamentlike poging tussen die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, die Bestuursvereniging vir Groot Roofdiere van Namibië (LCMAN), die kamer van omgewingsake (NCE), altesaam 25 spesie-assessors, 30 bydraers en 31 beoordelaars.

Die boek beslaan net meer as 190 bladsye, bevat 39 kaarte, meer as 100 kleurfoto's en meer as 750 verwysings. By elke spesie word aangedui hoe dit in Namibië versprei is, die jongste bevolkingskattings en –neigings, die ekologie en gedrag van die spesie, bedreigings vir bewaring, status en voorgestelde aksies.

Lede van die publiek kan die boek by plaaslike boekwinkels aankoop of dit gratis by http://the-eis.com/elibrary/search/27193 aflaai.

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer