Foto ter illustrasie/NWR
Foto ter illustrasie/NWR

Besoekers se linne met die hand gewas

Sonja Smith

Personeel van die Waterberg-oord is gedwing om linne met die hand te was nadat Namibia Wildlife Resorts (NWR) ’n duurder kontrakteur goedgekeur het, wat die wasmasjiene vir byna agt maande stukkend gelaat het.

Die park is oos van Otjiwarongo geleë en word deur die Waterberg-plato gekenmerk.

Interne dokumente wat Network Media Hub (NMH) onder oë gehad het, toon dat Semanton Investment CC, ’n maatskappy in Katurura wat voorheen die oord se masjiene gediens het, ’n kwotasie van N$53 330 ingedien het om alle wasgoedtoerusting te herstel ná ’n volledige terreininspeksie. 

NWR se Verkrygingsbestuurseenheid (PMU) het egter nie die versoek goedgekeur nie en het eerder Central Technical Supplies (CTS) verkies, wat N$130 820 vir dieselfde omvang van werk gekwoteer het sonder om die terrein te besoek.

In ’n besluit wat op 16 Desember 2025 geneem is, het die PMU goedkeuring gegee vir CTS om slegs een wasmasjien teen ’n koste van N$28 810 te herstel, terwyl die res van die toerusting nie aan geraak is nie.

Ten spyte daarvan dat CTS die aankoopbestelling ontvang het, het hulle nooit by die oord opgedaag nie en na vertragings in die verkryging van onderdele verwys; maande later was die wasmasjien steeds nie herstel nie. Gevolglik het ’n langdurige bedryfskrisis by die oord ontstaan. 


DAAGLIKSE BEDRYWIGHEDE GERAAK

In ’n bedryfsverslag gedateer 4 Februarie het die oord se bestuurder, Elly Nuule, senior bestuur gewaarsku dat dié kwessie die daaglikse bedrywighede, die produktiwiteit van personeel en dienslewering aan gaste ernstig beïnvloed het.

“Die masjiene is vir ’n lang tydperk nie operasioneel nie, wat personeel dwing om linne met die hand te was of die wasgoed na ons suster-oord, Gross Barman, te vervoer, wat meer as 200 kilometer ver geleë is,” het hy geskryf.

Nuulu het verder gewaarsku oor vertragings in kameromsettye, die risiko van linnetekorte tydens piekbesetting en moontlike risiko’s aan chemiese blootstelling vir personeel wat die linne met die hand was.

Rekords toon dat hy die kwessie reeds op 13 Augustus 2025 geopper het toe hy ’n interne aankoopversoek vir Semanton Investment CC ingedien het om die volledige herstelwerk uit te voer. 

Die versoek is deur die PMU erken, maar nooit goedgekeur nie, sonder dat enige formele verduideliking aan die oord verskaf is. 

In korrespondensie wat NMH gesien het, het Nuule later skriftelike magtiging van verkrygingsbeamptes versoek en verduidelik waarom slegs een verskaffer oorweeg is ten spyte van ’n beduidende prysverskil. 

“As gevolg van die enorme verskil tussen die twee kwotasies, wil ek graag u kantoor versoek om aan my die riglyn- en magtigingsdokument te verskaf… aangesien ek as rekenpligtige beampte sal teken,” het hy in April 2026 geskryf. 

Die PMU se reaksie het nie die prysverskil aangespreek nie; en het eerder aanbeveel dat die verkrygingsversoek weer ingedien word as ’n direkte verkryging van gemagtigde agente om aanspreeklikheid en waarborge te verseker.

Intussen het ’n nuwe individuele verkrygingsplan wat in April 2026 opgestel is, die koste van dieselfde werk op N$103 915 bereken, weer eens gebaseer op ’n kwotasie van Semanton Investment CC, wat die dokument self as die laagste bieër beskryf het. 

Die wet op openbare verkryging vereis dat kontrakte aan die laagste geëvalueerde bieër toegeken word, tensy daar gedokumenteerde regverdiging is om van daardie beginsel af te wyk. Geen sodanige regverdiging verskyn in die dokumente wat nagegaan is nie.

Vrae wat NMH aan NWR se waarnemende besturende direkteur, Epson Kasuto, en finansiële hoof, Brian Masule, gestuur het, was teen druktyd steeds onbeantwoord.

Frank Biederlack van CTS het aan NMH gesê dat NWR nie sy masjiene op ’n gereelde basis diens nie. 

“Dit is baie moeilik om te verduidelik aangesien ons ’n aantal werke vir die maatskappy doen. Wat ek vir jou kan sê, is dat NWR nie hul masjiene op ’n gereelde basis diens nie en elke keer as hulle ons bel om dit te gaan herstel, is die masjiene in ’n slegte toestand wanneer ons daar aankom.

“Daar is laerfoute (bearing failures) en meestal neem herstelwerk soos dit langer, en soms kom die onderdele van oorsee,” het Biederlack gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer