Vroue verdien 'veiligheid,respek'

Styging in digitale teistering
Namibië se demokrasie is gewortel in die krag, standvastigheid en duidelikheid van doel wat sy vroue oor geslagte heen getoon het.
Leandrea mouers
Woensdag se landwye viering van Menseregtedag en Namibiese Vrouedag het die fokus laat val op toenemende kommer oor digitale afknouery en aanlyn misbruik. Dit te midde van beramings dat byna een uit elke tien Namibiese kinders aanlyn die risiko loop om uitgebuit te word of die slagoffer van kuberboelies te wees.

Goewerneur Nathalia /Goagoses het by die Erongo-streeksgeleentheid in Uis gewaarsku dat hoewel tegnologie geleenthede skep, dit ook vroue en kinders aan beduidende risiko's blootstel.

“Volgens Unicef (die VN se kinderfonds) word byna een uit elke tien Namibiese kinders aanlyn met uitbuiting of kuberboelies gekonfronteer. Dit is 'n kommerwekkende syfer,” het die goewerneur gesê.

Volgens haar het die regering verskeie inisiatiewe ingestel het wat daarop gemik is om die probleem aan te pak.

“Regeringspogings alleen is egter nie genoeg nie. Ons benodig vennootskappe met die burgerlike samelewing, tradisionele leiers, die private sektor, gesinne en geloofsgebaseerde organisasies,” het /Goagoses beklemtoon.

Hermien Appolus van die Kantoor van die Ombudsman, het die belangrikheid van die aanmelding van digitale geweld beklemtoon.

Appolus het gesê dat data-insamelingsmetodes versterk moet word om menseregteskendings beter te verstaan, veral met betrekking tot digitale geweld.

“Akkurate inligting is noodsaaklik om die omvang en patrone van hierdie geweld te verstaan en om bewysgebaseerde reaksies te ontwikkel,” het sy gesê.

Appolus het beklemtoon dat voorkoming die oorsake van geweld moet aanpak, en bygevoeg dat slegs 'n kollektiewe poging die land se kwesbaarste burgers kan beskerm.

Sy het verwys na die belangrikheid van digitale geletterdheid wat volgens haar die beste beskerming teen digitaal-gedrewe misbruik, teistering en blatante geweld bied.

“Vir geletterdheid om egter doeltreffend te wees, moet digitale toegang inklusief en billik wees. Ons moet struikelblokke verwyder waarmee gemarginaliseerde en landelike gemeenskappe te kampe het, en verseker dat vroue en kinders ook toegang het.”

AANLYN WRAAK

Streekpolisiebevelvoerder Nikolaus Kupembona het na 'n skerp toename in digitale misbruik verwys.

“Soos tegnologie meer in ons daaglikse lewens geïntegreer word, het oortreders nuwe maniere gevind om skade aan te rig. Digitale platforms word toenemend misbruik om vroue en meisies te teister en te dreig, intieme beelde sonder toestemming te versprei – algemeen bekend as wraakpornografie – individue se identiteit aanlyn na te boots, lasterlike inhoud te versprei, aan kuberteistering en aanlyn intimidasie deel te neem, en jong meisies deur sosiale media te manipuleer of te mislei,” het hy gewaarsku.

Volgens hom ly baie slagoffers in stilte.

“Digitale geweld vernietig reputasies, ondermyn geestesgesondheid, verwoes gesinne en, in sommige gevalle dryf dit slagoffers tot selfbesering,” het die polisiebevelvoerder gesê.

Kupembona het beklemtoon die polisie versterk hul kapasiteit om aanlyn misdade te bestry.

Hy ouers aangemoedig om hul kinders en jongmense te lei om verantwoordelik aanlyn op te tree.

“Stilte in die aangesig van mishandeling maak 'n mens 'n medepligtige. Jy moet voorvalle van aanlyn teistering, uitbuiting en kuberafknouery onmiddellik aanmeld. Hoe vroeër ons ingryp, hoe beter beskerm ons slagoffers.”

‘N GELYKE SAMELEWING

In 'n verklaring wat Woensdag uitgereik is, het president Netumbo Nandi-Ndaitwah gesê Namibië se Vrouedag bied 'n geleentheid om die "moed en leierskap van die vroue wat ons demokrasie gebou het en ons nasie steeds versterk" te huldig.

Die president sê die herdenking van Internasionale Menseregtedag en Vrouedag oorvleuel in hul doelwitte.

"Menseregte en vrouebemagtiging is nie afsonderlike idees nie; hulle is verweef. Menseregte is nie abstrak nie. Hulle vorm hoe ons regeer, hoe ons dien en hoe ons mekaar as gelykes behandel."

Die staatshoof het beklemtoon dat die welstand van Namibiese vroue en die samelewing nie net by die staat kan berus nie. “Die werk kan nie net aan die regering oorgelaat word nie. Gesinne, gemeenskappe, die burgerlike samelewing en die private sektor het almal 'n rol,” het sy gesê.

“Uitdagings soos jeugwerkloosheid, kinderarbeid en die beskerming van kwesbare mense vereis kollektiewe optrede. Ons kan nie vordering met menseregte eis terwyl sommige onder ons in vrees of op die kantlyn leef nie.”

Met verwysing na vroue se historiese rol in Namibië, het Nandi-Ndaitwah gesê dat hul bydraes tot die bevrydingstryd van kardinale belang was.

“Lank voor onafhanklikheid was vroue organiseerders, mobiliseerders en beskermers van gesinne en gemeenskappe. Hulle het die gewig van ballingskap, aanhouding en ontworteling gedra, maar het onwrikbaar gebly in hul toewyding aan vryheid.”

Namibië se demokrasie is “gewortel in die krag, standvastigheid en duidelikheid van doel wat sy vroue oor geslagte heen getoon het”, het Nandi-Ndaitwah gesê.

VEILIGE RUIMTES

Die president het ook alle Namibiërs versoek om op te tree teen geslagsgebaseerde geweld.

“Dit is 'n skending van menswaardigheid en 'n verraad van die waardes waarvoor ons vryheidsvegters gestaan het. Ons nasie kan nie beweer dat hulle menseregte eerbiedig terwyl sy moeders, susters en dogters steeds in vrees leef nie.”

Vroue, het sy gesê, “verdien veiligheid, respek en die volle beskerming van die wet in 'n onafhanklike Namibië.”

Tydens 'n geleentheid wat deur die Khomas-streekraad in Windhoek aangebied is, het die voorsitter van die streekraad, Stefanus Ndengu, hulde gebring aan vroue soos Kakurukaze Mungunda, wat in 1959 weerstand gebied het teen gedwonge verskuiwings uit die Ou Lokasie in Katutura.

Hy het gesê die verset van vroue soos sy is 'n kragtige herinnering aan die opofferings wat gemaak is in die nastrewing van geregtigheid en menswaardigheid.

Ndengu het ook verwys na die toename in digitale geweld en dit een van die mees wydverspreide moderne vorme van mishandeling genoem wat vroue en meisies teiken.

“Aanlyn ruimtes behoort op te hef, te bemagtig en te verbind,” het hy gesê en betreur dat dit vir miljoene vyandige arenas van teistering geword het. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer