Starlink-kwessie kan in hof draai

‘Hulle moet oop kaarte speel’
Meer as 5 000 gegriefdes het die klagskrif onderteken.
Iréne-Mari van der Walt

Een van die meer as die 5 500 persone wat ’n klagskrif aan Cran gestuur het om sy besluit om nie spektrum en dienslisensies aan Starlink uit te reik nie, sê die groep sal hulle tot die hoërhof wend indien hul klagskrif op dowe ore val. 

“Ons gaan dit nie daar los nie. Daar is so baie mense in die landelike gebiede wat nie ’n stem het nie, want hulle het nie toegang tot die internet nie,” het Reinhardt Küsters gesê die klagskrif van stapel gestuur het. 

Hy die klagskrif per e-pos aan die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran), die kantoor van die minister van inligting en kommunikasietegnologie en die kantoor van die eerste minister gestuur. 

Vir Küsters is die Starlink-kwessie een wat hom persoonlik raak: “Elke dag moet ek 10 km van my huis af ry om ’n plek te kry waar ek toegang tot die internet kan kry. 

“Hierdie gaan nie net om my persoonlike ongerief nie, maar dit verteenwoordig ’n breër kwessie wat derduisende Namibiërs wat in landelike gebiede woon en van die digitale wêreld ontkoppel is, raak.” 

Küsters is in die toerismebedryf by Kongola in die Zambezistreek en verduidelik dat die argumente vir die toelating van Starlink, volgens hom, meer is as die argumente daarteen. 

“Vir al die miljoene wat Elon Musk belê het, kan ons nie verwag dat hy net 51% gaan oorhandig nie,” sê hy. 

Die alternatief tot Starlink, die LEO webdiensteverskaffer OneWeb, is volgens Küsters nie voldoende nie. 

“Dit is vrek duur, vrek stadig en dit het ’n beperking op. Jy moet klomp geld uithaal vir die toerusting,” verduidelik hy. 

Starlink kan volgens Küsters ’n drastiese verbetering tot talle Namibiërs se lewensbestaan bring. 

“Goedkeuring van die Starlink-aansoek het die potensiaal om die lewens van baie Namibiërs drasties te verbeter deur hulle die digitale gereedskap te bied wat nodig is vir onderwys, besigheid en persoonlike kommunikasie. 

“Die koste van geleenthede wat misgeloop is, is te hoog vir ons nasie om oor die hoof te sien en die aanvaarding van hierdie tegnologie sal Namibië na 'n beter toekoms dryf,” lui die klagskrif wat in ’n week meer as 5 000 handtekeninge gekry het.

Teen gister het 5 582 gegriefdes die klagskrif onderteken. 

Küsters eis ook dat die relevante owerhede deursigtigheid met die publiek uitoefen. 

“Hulle moet vir ons sê hoekom hulle die ander een toegelaat het, maar nie vir Starlink nie. Iets is nie pluis nie – hulle moet oop kaarte met ons speel,” sê hy. 

Vrae wat aan Cran gerig is oor die aanvaarding van die klagskrif, die gronde waarop OneWeb toegelaat is om in Namibië te bedryf en Starlink se appèl wat by Cran ingedien is, is teen druktyd nie beantwoord nie. 

Cran het op 24 Maart vanjaar bekend gemaak dat hulle Starlink se aansoek om spektrum en lisensies van die hand gewys het, aangesien die maatskappy, wat geen Namibiese eienaarskap het nie, slegs aan drie van Cran se ses vereistes voldoen het. 

Afgesien van die kwessie van Namibiese eienaarskap, soos deur die wet vereis word, het Cran bepaal dat Starlink voorheen sonder geldige lisensies in Namibië bedryf was wat volgens Cran se destydse raadsvoorsitter, prof. Tulimevava Kaunapawa, neergekom het op ’n “totale minagting vir die sektor se bestuursraamwerk”. 

Cran het bepaal dat twyfel ook onstaan het oor Starlink se vermoë en voorneme om te reageer op regulatoriese opdragte in die toekoms weens Starlink se gebrek aan ’n Namibiese adres en basis.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer