Paratus skakel ou infrastruktuur uit

Iréne-Mari van der Walt
Deur verouderde infrastruktuur uit te skakel wat voorsiening maak vir 2G- en 3G-verbindings, hoop Paratus Namibia om gebruikers ’n hoër gehalte diens te bied met sy nuwe mobiele diens, wat Dinsdag in Windhoek bekend gestel is.

Paratus se jongste diens bied ’n verskeidenheid mededingende pakkette wat, volgens sy besturende direkteur, Andrew Hall, met die gebruiker in gedagte saamgestel is. Dit sluit in die Shap-diens wat soortgelyk is aan die model vir voorafbetalings (pay-as-you-go), die Vantage-diens wat soortgelyk is aan selfoonkontrakte in die mark en die Elevate-diens wat maandeliks betaalbaar is met onbeperkte datagebruik.

Hall verduidelik hierdie bekendstelling is as gevolg van die markverskuiwing wat tydens die Covid-19-pandemie plaasgevind het.

“Wat as ’n noodsaaklikheid in die Covid-era begin het – om kliënte in staat te stel om van hul huise af in te teken – het gegroei tot ’n volledig digitale manier om met Paratus te verbind,” het hy tydens die geleentheid gesê.

Volgens Hall dek hierdie diens 50 groot dorpe en 80 gemeenskappe in Namibië, met voorkeur wat aan die Oos-Wes- en Windhoek-Oshakati-verbinding gegee is sowel as aandag aan die Windhoek-Noordoewer-verbinding.

’n Nuwe Paratus-toepassing is ook sedert gister vanaf 00:01 aktief waar gebruikers alle Paratus-dienste, soos data- en mobiele dienste asook vaste internetverbindings in hul huise, kan bestuur en beheer.

Paratus se oproepdiens gebruik VoLTE, wat volgens Hall beter konnektiwiteit verseker en tot gevolg het dat minder oproepe weens netwerkprobleme beëindig word en meer stabiele oproepe van binne geboue gemaak kan word, waar konnektiwiteit wisselvallig kan wees.

Deur VoWI-FI te gebruik, kan gebruikers van hierdie diens ’n ander nommer vanaf enige Wi-Fi-netwerk in die wêreld teen standaard- plaaslike tariewe skakel en duur internasionale tariewe systap.

Paratus is ook Namibië se eerste diensverskaffer wat e-SIM-dienste aanbied. Daar word verwag dat dit gebruikers in staat sal stel om binne tien minute ’n e-SIM te bekom sonder om ’n Paratus-tak te besoek.

“Paratus staan uit deur unieke keuse-pakette te bied wat kliënte beheer gee oor hoe hulle data meet, vir dienste betaal en prestasie bestuur,” het Paratus in ’n verklaring gesê.

Voortaan sal Paratus ook met veselgebaseerde internetdienste ’n spoed van tot 200 Mbps en minstens 20 Mbps op sy SKY-FI-pakette geniet, volgens Hall.

Lees meer oor Paratus se nuwe tegnologie in vandag se Market Watch.

[email protected]

Klik op https://q.my.na/4FHY

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer