NLU: Satellietdienste onbekostigbaar vir boere

Francoise Steynberg
Die landbousektor ervaar voortdurende uitdagings rakende verskeie tekortkominge op die gebied van telekommunikasie en voorgestelde mobiele satelliettoepassings word as onbekostigbaar vir boere beskou.

“Internetverbinding in landelike gebiede is nie meer ’n luukse nie, maar ’n absolute noodsaaklikheid om daagliks sake te doen. Boere het oplossings nodig, asseblief,” het die Namibië Landbou-unie (NLU) se uitvoerende hoof, Roelie Venter, tydens ’n openbare gesprek oor mobiele satelliettoepassings van die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) in die hoofstad gepleit.

Vier Namibiese geregistreerde diensverskaffers, Echo Namibia, Oblixx Communication Networks, Rocketnet Internet en Blue Telecommunications (’n filiaal van Radio Electronics), het hul voorstelle as fasiliteerders vir die plaaslike mark aangebied, in samewerking met Starlink-mededinger OneWeb.

Tydens hierdie geleentheid is Eutelsat OneWeb aangebied as 'n maatskappy wat meer as 630 lae-wentelbaan-satelliete bedryf wat die aarde op ’n hoogte van ongeveer 1 200 km omsirkel. Dit stel gebruikers in selfs die mees afgeleë liggings in staat om wêreldwyd toegang tot betroubare data- en stemtelekommunikasie teen hoë spoed en akkuraatheid te verkry.

OneWeb onderhandel steeds met die regering vir vrystelling van die vereiste dat 51% van plaaslike internetverskaffers aan Namibiërs moet behoort en die vier ondernemings soek ’n spektrumtoekenning by Cran om OneWeb-verbinding in Namibië te kan verkoop. Cran het bevestig Starlink se aansoek word steeds deur die ministerie van inligting en

kommunikasietegnologie hersien en dat geen finale besluit oor hierdie aansoek geneem is nie.



UITFASERING VAN WIMAX

Tydens ’n vergadering vroeg in Augustus tussen die NLU, Cran en Telecom is die uitfasering van WiMAX-fasiliteite spesifiek bespreek.

Die uitfasering van hierdie verouderde tegnologie word oor ’n tydperk van 24 maande uitgevoer en sal in September 2026 eindig.

“WiMAX-toerusting en onderdele kan nie meer verkry of vervang word nie, wat die vraag laat ontstaan watter alternatiewe is vir huidige WiMAX-gebruikers beskikbaar? vra die NLU.

“Die verteenwoordigers van Telecom het verklaar dat alternatiewe ondersoek word, maar geen besluite is al gefinaliseer nie. Dit laat die landbousektor – en ander – in die moeilikheid.”

Die NLU het Telecom gemaan om toewyding en fokus rakende die huidige dienslewering te toon en dringend versoek dat ’n tussentydse plan in plek gestel móét word.

“Cran het die NLU verseker dat niemand sonder verbinding gelaat sal word nie.”

Tydens die vergadering met Telecom is volgens die NLU ernstige bewerings gemaak dat boere diensverskaffers toegang tot hul infrastruktuur weier.

“Ons het Cran gevra om ’n lys te verskaf van individue wat toegang weier. Terselfdertyd wil ons graag na ons lede uitreik om vas te stel hoeveel lede infrastruktuur van verskaffers van telekommunikasiedienste op hul eiendom het en of hulle toegang toestaan of weier.”

Indien boere wel toegang weier, wil die NLU weet wat die redes is en verseker dat alle verslae vertroulik hanteer sal word.

[email protected]

Klik op die skakel: https://q.my.na/ZJYV

Kommentaar

Republikein 2025-10-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer