'Geen rede tot kommer oor WiMAX'

Alternatief gesoek
Iréne-Mari van der Walt
Telecom Namibië se uitvoerende hoof, Stanley Shanapinda, het bevestig daar is geen rede tot kommer oor die opskorting van hul WiMAX-diens nie.

Dit volg nadat gebruikers glo verkeerdelik van Telecom 'n kennisgewing ontvang het dat hierdie diens opgeskort word.

"Ons is nog in gesprekke met Cran," het Shanapinda oor die saak gedeel.

Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) se uitvoerende hoof vir regulatoriese regsdienste, Josephine Shigwedha, verduidelik dat ’n verskaffer van telekommunikasiedienste nie eenvoudig sy dienste kan opskort en sodoende Namibiërs in die knyp los nie. "Jy kan nie net ’n diens aan iemand lewer en dan onttrek nie, want jy laat daardie gebruiker sonder verbinding. Dít is waar die saak tans is; ons is besig om saam met Telecom ’n alternatief te probeer vind tot WiMAX wat daardie gebruikers kan bedien voor hulle die diens opskort," verduidelik sy.

Shigwedha het bevestig dat WiMAX wel in fases opgeskort sal word en dat hierdie proses in stedelike gebiede sal begin waar daar reeds alternatiewe infrastruktuur is. "Ons sal nie van WiMAX in landelike gebiede kan ontslae raak tot daar nie ’n alternatief in plek is nie, want ons kan nie mense sommer net van die netwerk afgooi nie," sê sy.

WiMAX is ’n soort telekommunikasietegnologie wat draadlose data oor lang afstande lewer. Hierdie tegnologie se sterkpunt in die Namibiese konteks is dat sy opvangwydte veel groter as ander soorte tegnologie soos Wi-Fi is en juis daarom kan dit gebruikers etlike kilometers ver vanaf een basisstasie bedien. Met die verbeterings aan langtermyn-evolusie (LTE) tegnologie, het WiMAX getaan en stadig maar seker verouderd geword. LTE word tans wêreldwyd as die bedryfstandaard aanvaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer