Gaan AI jou werk steel

Vra eerder wie dit beheer
Die toekoms van werk sal nie deur tegnologie bepaal word nie, maar deur leierskap, bestuur en etiek.
NWU

Rooi ligte flikker oor hoe kunsmatige intelligensie (AI) sekere, indien nie die meeste, toekomstige werk kan vervang. 

Hierdie fokus op werksverlies stel egter moontlik die verkeerde vraag. Die kernkwessie is nie of AI werk sal oorneem nie, maar wie dit beheer en hoe dit gebruik word.

AI is nie ’n outonome entiteit of ’n korporasie met eie aansporings nie. Die impak daarvan word gevorm deur politieke besluite, korporatiewe aansporings en die waardes van diegene in magsposisies, nie deur die tegnologie self nie.

’n Klein groep individue beheer die mees prominente en sterk AI-stelsels en dit is hul motiewe wat bevraagteken moet word. 

Die werklike uitdaging is dus nie hoe om AI te keer nie, maar hoe om te verseker dat die mag daarvan in die openbare belang aangewend word.

Volgens prof. Linda du Plessis, senior adjunk-visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom in die Noordwes-provinsie van Suid-Afrika, het hierdie tegnologie ’n morele bewaarder nodig en openbare universiteite kan help verseker dat die samelewing, nie net korporasies nie, ’n stem in AI se toekoms het.

“Die kernvraag is nie of AI mense vervang nie, maar wie hierdie stelsels besit en ’n sê in hul ontwikkeling het. AI verwerk patrone en data, maar dit verstaan nie betekenis soos mense dit doen nie. Dit kan bestaande idees hermeng, maar oorspronklike idees en baanbrekende kreatiwiteit kom uit menslike verbeelding en ervaring,” sê Du Plessis.


MENSLIKE BANDE

Werk wat op empatie staatmaak en die ruggraat van ’n samelewing vorm soos onderrig, berading, leierskap en versorging, vereis ’n werklike menslike verbintenis wat AI nie kan herhaal nie. Dit is waar universiteite ’n kritieke rol speel: Hulle ontwikkel die vermoë om te dink, te bevraagteken en ingewikkeldheid te hanteer.

“Die regte lewe is deurmekaar. Mense pas baie beter by onverwagte situasies as AI aan, wat op patrone en gestruktureerde insette staatmaak. Uiteindelik bly mense aanspreeklik,” sê sy.

Sy voeg by dat te veel klem op die tegnologie self geplaas word, eerder as op diegene wat dit beheer.

“Terwyl die wêreld spekuleer oor die impak van AI op werkgeleenthede, is dit nie die regte vraag nie. Dit raam die toekoms as ’n tegnologiese kwessie, terwyl die belangriker vraag is: wie lei die verandering en in wie se belang? AI ontwikkel nie in ’n vakuum nie.

"Daarom gaan die toekoms van werk nie net oor tegnologie nie, maar oor leierskap, bestuur en etiek.”

Sy voeg by: “Daar is twee moontlike rigtings vir AI: Dit kan mense óf vervang óf bemagtig” en wys daarop dat die mensdom al voorheen by soortgelyke tegnologiese kruispaaie was.

“Die geskiedenis het herhaaldelik getoon dat tegnologiese vooruitgang tot bemagtiging kan lei.”

Openbare universiteite soos die NWU speel toenemend ’n belangrike rol in die bepaling en handhawing van ’n morele koers vir die gebruik van AI.


KRITIESE DENKERS

“Universiteite lewer nie net werkers nie; hulle vorm kritiese denkers, etiese besluitnemers en toekomstige leiers. Hulle skep ook omgewings waar studente leer om saam te werk, te kommunikeer en met diverse perspektiewe om te gaan. 

“AI kan groot hoeveelhede data verwerk, maar mense moet besluit wat reg, billik en betekenisvol is. Onderwys moet verseker dat mense in beheer van tegnologie bly, nie andersom nie.”

Du Plessis sê voorts navorsing toon dat AI die beste werk wanneer dit mense aanvul, nie vervang nie, veral in areas soos leierskap, probleemoplossing en samewerking.

“Die rigting wat ons inslaan, sal afhang van beleidskeuses, leierskapprioriteite en mense se vermoë om aan te pas.

“Met die regte leierskap kan AI ongelykheid verminder, lewensgehalte verbeter en nuwe nywerhede en werksgeleenthede skep. AI is nie die probleem nie. Die werklike kwessie is wie dit beheer en of die samelewing ’n sê daarin het. 

“Die grootste gevaar is nie AI nie, maar ’n passiewe samelewing. Ons toekoms hang af van die keuses wat ons maak en die mense wat ons vertrou om te lei,” aldus Du Plessis.

Hoewel hierdie bekommernisse geldig is, beklemtoon Du Plessis dat leerlinge en ouers nie passief moet reageer nie, maar aktief hul plek in die toekomstige arbeidsmark moet vorm.

“Die beste manier om vrese oor vervanging te oorkom, is om jouself onvervangbaar te maak. Dit vereis ’n fokus op lewenslange leer, dissiplinêre kundigheid, kritiese en kreatiewe denke, en die vermoë om AI as deel van jou werk te gebruik. 

“Die mees realistiese toekoms is mense wat saam met AI werk, nie daardeur vervang word nie. Diegene wat leer om AI te gebruik, sal ’n duidelike voordeel hê.”

Sy sluit af: “AI is nie net ’n hulpmiddel nie; dit word ’n kernboublok van die toekoms, soos elektrisiteit of die internet. Ja, die rooi ligte flikke oor AI, maar in ’n AI-gedrewe wêreld sal dié wat dink, aanpas en optree nie vervang word nie – hulle sal lei.” – NWU


Kommentaar

Republikein 2026-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer