Ground-breaking ceremony of the Ikumwe tower
Ground-breaking ceremony of the Ikumwe tower

Drie netwerktorings vir Zambezi beplan

Oprigting van torings beloop N$5 miljoen
Twee torings is reeds in Katima Mulilo en Kongola opgerig en nog drie word vir dié streek beplan.
Rita Kakelo
Die oprigting van netwerktorings in drie dorpe in die Zambezistreek het vandeesweek amptelik begin.

Die minister van inligting, kommunikasie en tegnologie, Emma Theofelus, het Maandag die sooispitgeleentheid in Ikumwe bygewoon, waar een van die torings opgerig gaan word.

Die ander twee torings sal in die dorpe Mutikila- en Nakabolelwa opgerig word.

Theofelus het opgemerk dat die oprigting van die torings die digitale gaping sal help oorbrug, veral in die onderwys- en gesondheidsektor.

Sy glo dit sal studente help in gebiede wat minder bedien word, asook noodsaaklike mediese dienste vir pasiënte verbeter.

Volgens haar is dit veral merkwaardig aangesien slegs die helfte van die bevolking tans toegang tot die internet het.

“Vandag, meer as ooit, is ons daartoe verbind om die krag van tegnologie te benut, digitale geletterdheid te bevorder en toegang tot openbare digitale dienste te verseker.”

TYDLYN

Die uitvoerende hoof van PowerCom, Beatus Amadhila, het bevestig dat die oprigting van die Guyed Lattice-torings van 80 meter elk, wat sowat N$5 miljoen sal kos, geskeduleer is om teen 30 September vanjaar voltooi te wees.

“In teenstelling met selfondersteunende torings, is spantorings (guyed towers) ligter en meer bekostigbaar om te monteer en te installeer. Dit maak hulle geskik vir hierdie spesifieke geografiese gebiede,” het Amadhila verduidelik.

Hy het verder verduidelik dat die projek net een van verskeie is en beklemtoon dat hul aanvanklike doelwit was om ongeveer 29 netwerktorings oraloor die land te bou wat ’n totale uitgawe van N$32,5 miljoen sou meebring. Sowat 70% van dié plan is glo reeds voltooi.

NUWE TORINGS

Amadhila het genoem dat die maatskappy reeds twee torings in die Zambezistreek opgerig het, een in Katima Mulilo en een in Kongola.

Boonop is vier nuwe netwerktorings in die gevorderde beplanningstadium en sal na verwagting binne die volgende 24 maande voltooi wees.

“Konstruksie by hierdie terreine, insluitend Mafuta, Gunkwe, Linyanti en Lisikili, word vir die 2025-’26-boekjaar beplan,” het Amadhila gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer