Met ’n rugsak deur die Namib
Sondag pak 100 dapper atlete, gewapen met ’n rugsak met alle toerusting en kos, ’n roete van 250 kilometer oor ses skofte aan wat hulle deur van sandduine tot soutpanne neem.
Die Racing The Planet UltraLite Ultramarathon begin op Swakopmund en kronkel deur van die Namib-Naukluft Nasionale Park, die Maanlandskap, Kuisebrivier-canyon en Skedelkuspark en eindig weer op die kusdorp.
Die Namib Race is in 2005 van stapel gestuur as deel van die 4 Deserts Ultramarathon-reeks. Deelnemers kan draf, stap of albei kombineer, met 20% wat volgens die amptelike webtuiste die hele roete draf, terwyl 60% draf en stap en 20% stap die hele afstand.
Racing The Planet en die 4 Deserts Ultramarathon-reeks word wyd erken as die mees gesogte buitelug-wedloop ter wêreld. Die reeks bestaan uit die Namib Race (Namibië), die Gobi-mars (Mongolië), die Atacama-kruising (Chili) en Die Laaste Woestyn (Antarktika).
Die vyfde wedloop, die Racing The Planet Ultramarathon, verskuif elke jaar na ’n nuwe ligging.
Deelnemers aan die wedlope lê 250 kilometer in sewe dae oor rowwe terrein af met slegs ’n slaapplek in ’n tent en water wat voorsien word. Hulle word ondersteun deur hoogs gekwalifiseerde personeel, almal met ervaring in stap, marathons en ultramarathons, en mediese spanne wat spesialiseer in wildernismedisyne.
Racing The Planet en die 4 Deserts Ultramarathon-reeks is in Februarie 2002 deur die Amerikaner Mary Gadams gestig. Gadams, ’n voormalige beleggingsbankier en -strateeg, is ’n bekende in avontuur- en uithouvermoësport oraloor die wêreld.
Die eerste 4 Deserts Race, die Gobi-mars, is in September 2003 naby Dunhuang, China, gehou. Hierdie wedloop het roetemarathons aan China bekendgestel.
Minder as ’n jaar later, in Julie 2004, het die reeks uitgebrei na die Atacama-kruising in Chili, en toe in September na die Sahara Race in Egipte. Die Laaste Woestyn in Antarktika is in Januarie 2006 ingewy. In Februarie 2008 is ’n vyfde jaarlikse wedloop, genaamd die Racing The Planet Ultramarathon, by die kalender gevoeg. Hierdie wedloop, van ’n soortgelyke formaat, skuif elke jaar na ’n nuwe land terwyl dit die natuur en kulturele kenmerke van elke plek beklemtoon. Racing The Planet Namibia 2009 het van die Visrivier-canyon tot die Skedelkus van Namibië gestrek.
Teen die einde van 2025 het Racing The Planet 79 ultramarathons oor meer as 20 jaar aangebied. Meer as 10 000 deelnemers van ongeveer 100 lande het aan die 4 Deserts-reeks en die Racing The Planet Ultramarathon deelgeneem.
Lees meer in SportWrap wie die Namibiërs is wat aan die uitmergelende ultramarathon in die Namibwoestyn deelneem.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie