Die speke sing op Lüderitz
’n Fietsry-inisiatief op Lüderitz is besig om spoed op te tel met die doel om die sport te laat groei en jong ryers in die ǁKharasstreek te ontwikkel.
Die Spartans-fietsryklub het onlangs ’n pretrit op die hawedorp aangebied, terwyl dit daarna streef om die sport te laat groei.
Die klub is deur Victor Gowaseb gestig nadat ’n BMX-fietsryprojek wat tydens die Lüderitz Kreeffees 2025 bekend gestel is, hom geïnspireer het om ’n plaaslike fietsryprogram op die been te bring.
Sy missie is om ryers te identifiseer en op te lei om later vanjaar by die nasionale kampioenskappe mee te ding.
“Ek het die klub begin om jong fietsryers op Lüderitz en die ǁKharasstreek te ontwikkel. Die doel is om ryers te ontwikkel wat by die nasionale kampioenskappe, die Statebondspele en die Afrika-spele kan meeding,” het Gowaseb gesê.
Hy het gesê die klub, die enigste fietsryklub in die streek, beoog ook om jongmense aan te moedig om te begin fietsry as ’n positiewe alternatief vir dwelm- en alkoholmisbruik.
“Deur fietsry leer jy selfrespek en respek vir jou maats en spanmaats. Dit is ook goed vir jou asemhalingstelsel en hart en dit gee jongmense iets positiefs om na ’n doelwit te werk,” het hy gesê.
Elf fietsryers het aan die klub se eerste byeenkoms deelgeneem. “Dit was pret, en alles het goed verloop ondanks die baie koue weer,” het Gowaseb gesê.
Hy het gesê 16 fietsryers het vir die tweede byeenkoms ingeskryf, met die jongste deelnemer vier jaar oud.
“Dit wys jou jy is nooit te jonk of te oud om met fietsry te begin nie,” het hy gesê.
Registrasie kos N$60 per fietsryer vir elke byeenkoms. Gowaseb het gesê kinders wat nie die registrasiefooi kan bekostig nie, sal nie weggewys word nie.
“Ouers moet steeds hul kinders bring as hulle ’n fiets het en kan ry. As ’n fiets herstelwerk nodig het, laat weet my en ek sal kyk wat gedoen kan word,” het hy gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie