Unam-kaptein sien uit na ‘n vol stadion by Kudus

Klubrugby
Wedstryde op Walvisbaai, Grootfontein en in Olympia word môre in die JSB Gold Cup gespeel.
Andrew Poolman
Die FNB Universiteit van Namibië se rugbyspan het gewys dat hy nie onderskat durf word in sy wegwedstryd teen FNB Kudus komende Saterdag in Walvisbaai nie.

Dié wedstryd in die JSB Gold Cup sal regstreeks op NTV, https://oneuptwo.com en die YouTube-kanaal van Network Media Hub gebeeldsend word.

Rowan Jansen, flank en kaptein van Unam, en sy manne het laas Saterdag met ‘n merkwaardige terugvegpoging ‘n oorwinning uit die kake van ‘n potensiële groot nederlaag gered.

Ná sowat 25 minute van hul wedstryd teen Trustco United was die studentespan reeds met 0-24 agter en ‘n liederlike pak slae het hulle in die gesig gestaar.

Die eerste afskop van die wedstryd het in die hande van die Filistyne se lang flank Thehard Lintvelt beland, wat binne die eerste paar sekondes vir ‘n drie deurgenael het. Nie lank daarna nie, het die United-senter Keanan Januarie ‘n langafstand-onderskepdrie gaan druk.

Unam se afrigter Russell van Rooi het egter daarin geslaag om sy span met die rustydpraatjie (12-24) gefokus te kry en die rooi-en-geel span het stelselmatig hul voorsprong tot 33-24 opgebou.

Nadat United se stut Johan Brockman met ‘n rooi kaart afgestuur is, het die Filistyne eers weer die laaste drie gaan druk om die eindtelling 33-29 in Unam se guns te maak (vyf drieë aan elke kant).

Hierdie wipplankwedstryd getuig opnuut dat geen van die spanne in die JSB Gold Cup (die topses uit die NRU premierliga in die eerste helfte van die seisoen) enige opponent durf onderskat nie. Geen halfeindstryde word gespeel nie en net die twee boonste spanne sal in die finaal uitdraf.

Op papier lyk Unam met tye bra dun sonder van sy beseerde brekers soos Oderich Mouton (handfraktuur) en Handre Bezuidenhout (uitgetree ná ‘n knie-operasie), asook ‘n drietal staatmakers wat op pad is om by ‘n klub in Pole te gaan aansluit. Nietemin is Unam onoorwonne en tweede ná die eerste twee rondtes.

Jansen het gister aan Network Media Hub gesê sy span sien baie daarna uit om hulself teen Kudus te meet, wat die afgelope seisoene in ‘n gedugte opponent ontwikkel het. “Kudus se ondersteuners staan bankvas agter hulle en dis altyd lekker om in ‘n volgepakte stadion te speel. Kudus het laas Saterdag in Windhoek teen FNB Wanderers verloor en in hierdie korter kompetisie is daar min ruimte vir enige span om nederlae te bekostig.”

• Die voorloper FNB Wanderers pak die reis aan om FNB Grootfontein in die noorde te gaan aandurf.

Wikus Jacobs se Grootfontein-span het op die eerste naweek sy wegwedstryd teen Unam met 35-40 verloor, maar het daarna vir FNB Rehoboth met 34-27 geklop om tans in die vierde posisie te wees.

Wanderers se twee oorwinnings was beide op sy tuisveld – met 43-37 teen Rehoboth en met 50-38 teen Kudus. Die Wit Hingste onder kapteinskap van die slot Ruan Ludick verdedig ook die status dat hulle nog nie teen Grootfontein verloor het vandat die noordespan die trap na die premierliga geklim het nie.

• Ná twee uitslae wat reeds uit hul hande geglip het, sal Robbie Dickson en Herman Lintvelt se Trustco United-span ewe gemotiveerd wees om vanaf die onderpunt van die puntetabel te begin klim. Die bloues word by hul Gemsbokpark opgeweeg teen Jacky Bock se Rehoboth-manne, wat ook sover twee uit twee verloor het.

• Puntestand, uitslae en komende bepalings by www.fnbrugby.my.na/

Kommentaar

Republikein 2025-08-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer