Topspelers steek hand op voor toer na Toronto

Krieket
Die Namibiese spelersgroep vertrek reeds vandeesweek na Kanada.
Andrew Poolman
Die afgelope twee naweke se wedstryde in die Franchise T20-reeks van Krieket Namibië was ‘n goeie oefenlopie vir die nasionale oefengroep van die FNB Eagles wat voorberei om later vandeesmaand ‘n toer na Kanada te onderneem.

Namibië sal vanaf 27 Augustus tot 4 September in Toronto twee internasionale eendagwedstryde elk teen die gasheerspan en teen Skotland speel.

Die mini-toernooi vorm deel van die ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks (2024-2026) wat deel van die kwalifiserende pad na die 2027 Wêreldbekertoernooi is.

Namibië sal ‘n mede-aanbieder wees, maar sy span sal die kwalifiserende pad moet stap vanweë sy betreklik lae posisie op die wêreldranglys.

In die WCL2-reeks is die Eagles tans in die sesde posisie van die agt spanne (14 punte ná 20 wedstryde), Kanada vyfde (20 punte ná 20 wedstryde) en Skotland derde (24 punte ná 20 wedstryde). Die twee voorlopers is die VSA (28 punte ná 20 wedstryde) en Nederland (28 punte ná 24 wedstryde).

Gedurende volgende jaar is nog drie driehoekige mini-toernooie in die WCL2 vir Namibië geskeduleer. In April 2026 kom Oman en Skotland in Windhoek toer; in Mei 2026 toer die FNB Eagles en die Emirate na die VSA; en in Augustus 2026 bied Nederland ‘n toernooi aan waarin Namibië en Nepal ook deelneem.

Ná afloop van WCL2 vorder die topvier spanne direk na die kwalifiserende toernooi vir die 2027 Wêreldbeker, terwyl die onderste vier eers nog ‘n uitspeeltoernooi sal moet oorleef.

Die Namibiese spelersgroep vertrek reeds vandeesweek na Kanada en sal vooraf opwarmwedstryde teen Kanada se A-span speel.



Craig: 'Toernooi 'n massiewe sukses'

Die toer na Kanada sal die eerste wees sedert Craig Williams aangestel is om as die Namibiese afrigter by Pierre de Bruyn oor te neem.

Williams het aan Namibia Sport Hub gesê die ses genooide jong spelers uit Suid-Afrika wat tussen die vier spannde verdeel was, het hul rol vervul om die Franchise T20-reeks selfs meer kompeterend te maak.

“Die afgelope toernooi was ‘n massiewe sukses en die vlak was waarskynlik hoër as die vorige een. Krieket Namibië het uit hul pad gegaan om met markiestente vir die spanne ‘n opwindende atmosfeer by die stadion te skep.

“Die krag van die kompetisie was ook redelik eweredig versprei. Die blootstelling vir die o.19-spelers in elke franchise-groep was ook van waarde. Ek is baie tevrede met wat ons uit die toernooi gekry het.

“Aan die einde van September bied Zimbabwe die kwalifiserende toernooi vir die T20-Wêreldbeker aan en dit was ‘n goeie geleentheid om spelers vir ons spankeuring te evalueer.”



2025 FRANCHISE T20-REEKS

MEESTE SESSE

1 Gerhard Erasmus (NPL Bears) 17 in ses kolfbeurte.

2 JJ Smit (Eavion Eagles) 16 in ses kolfbeurte.

3 Ruben Trumpelmann (Eavion Eagles) 14 in ses kolfbeurte.

4 Lohan Louwrens (NPL Bears) 14 in ses kolfbeurte.

5 JP Kotzé (Pupkewitz Wildcats) 9 in ses kolfbeurte.

6 Dylan Leicher (Pupkewitz Wildcats) 9 in ses kolfbeurte.



VINNIGSTE KOLFTEMPO

1 Jack Brassell (NPL Bears) 10 lopies van 3 balle (333.3%).

2 Simon Shikongo (Paratus Jets) 16 lopies (266.67%).

3 Drikus Swart (NPL Bears) 15 lopies (250%).

4 Ruben Trumpelmann (Eavion Eagles) 155 lopies (201.3%).

5 Gerhard Erasmus (NPL Bears) 242 lopies (174.1%).

6 Sam Wearne (Paratus Jets) 41 lopies (170.8%).

7 JJ Smit (Eavion Eagles) 204 lopies (164.5%).



HOOGSTE KOLFTELLINGS

1 Gerhard Erasmus (NPL Bears) 134* van 66 balle.

2 JC Balt (Eavion Eagles) 84 van 53 balle.

3 Lohan Louwrens (NPL Bears) 80 van 47 balle.

4 Jan Frylinck (Pupkewitz Wildcats) 75 van 54 balle.

5 WP Myburgh (NPL Bears) 68 van 51 balle.

6 JJ Smit (Eavion Eagles) 66* van 32 balle.

7 Dylan Leicher (Pupkewitz Wildcats) 65* van 40 balle.



BESTE BOULEKONOMIE

1 Gerhard Erasmus (NPL Bears) 5.18 in 22 boulbeurte.

2 Waldo Smith (NPL Bears) 5.50 in 2 boulbeurte.

3 Juan Viljoen (NPL Bears) 5.75 in 4 boulbeurte.

4 Bernard Scholtz (NPL Bears) 5.76 in 21 boulbeurte.

5 JC Balt (Eavion Eagles) 5.93 in 13.5 boulbeurte.

6 Douglas Truter (Eavion Eagles) 6.0 in 4 boulbeurte.



BOULERS, MEESTE LEË BALLE

1 Gerhard Erasmus (NPL Bears) 71 in 22 boulbeurte.

2 Leo Sadler (Pupkewitz Wildcats) 70 in 24 boulbeurte.

3 Bernard Scholtz (NPL Bears) 62 in 21 boulbeurte.

4 Max Heingo (Pupkewitz Wildcats) 59 in 21 boulbeurte.

5 Ben Shikongo (Paratus Jets) 57 in 20.5 boulbeurte.

6 Ruan van Rooyen (Eavion Eagles) 52 in 22 boulbeurte.

Kommentaar

Republikein 2025-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer