Tergende raaisel uiteindelik opgeklaar

Atletiek
Daniel Paulus het reeds Luketz Swartbooi se nasionale rekords in die halfmarathon en marathon oortref, maar sy uitslag in die 5000 meter verlede jaar kon nie geverifieer word nie.
Tielman Van Lill
Atletiek Namibië (AN) se eerste Grand Prix-byeenkoms (GP) vir 2024 is op Swakopmund afgehandel en heelwat meer plaaslike kompetisies sal in die Olimpiese jaar volg, met hopelik geen omstredenheid nie.

Ná vele vorige navrae aan AN, het ’n opvolgberig in die Namibian Sun verskyn (18 Januarie 2024) waarna die beheerliggaam uiteindelik gister ’n antwoord aan Sport Wrap verskaf het.

Dié navrae handel oor verifiëring van die uitslae van twee atlete in die 5 000 meter vir mans tydens AN se tweede GP by die Onafhanklikheidstadion in Windhoek op 4 Februarie verlede jaar.

Die beheerliggaam se sekretaris-generaal Martha Emvula het gister gesê: “Om jou vraag te beantwoord, AN kon nie die nasionale rekord in die 5 000 meter bekragtig nie, omrede die dokument vir die aftelling van baanrondtes ontbreek.

“Dié dokument sou die aantal rondtes wat deur atlete gehardloop was bo twyfel gestel het. Die nasionale rekord wat op die webblad van Wêreldatletiek aangetoon word, kan maklik reggestel word. ’n Hersiening word altyd oor rekords gedoen voordat AN sy jaarverslag voor Maart indien, so hierdie een sal ook reggestel word.”

Daniel Paulus (eerste) en Simon Paulus (tweede) van die Korrektiewe Dienste het luidens verlede jaar se aanvanklike berigte beide Luketz Swartbooi se Namibiese nasionale 5 000-rekord verpletter.

Die legendariese Swartbooi het sy nasionale rekord (13 minute 46.91 sekondes) bykans 20 jaar gelede op 12 Maart 1994 by Fullerton in Kalifornië, VSA, behaal.

Volgens AN se amptelike verslag het Daniel en Simon onderskeidelik 13:09.62 vir ’n nuwe nasionale rekord en 13:37.85 aangeteken.

Ná navrae die daaropvolgende week aan Erwin Naimhwaka, AN se president, het hy ’n verklaring op 8 Februarie uitgereik met betrekking tot die geldigheid van die wedloop.

Naimhwaka het gesê: “Met die aankondiging van die 5 000 se uitslae het verskeie persone het na vore gekom en beweer dat die hardlopers moontlik een baanrondte te min gehardloop het.

“Die uitvoerende raad van AN sal al die nodige verifiërings doen om te bepaal of die wedloop, die tye en rekord geldig is al dan nie.”

Wetend dat die wedloop onder verdenking was, is dit kommerwekkend dat AN steeds die inligting aan Wêreldatletiek verskaf het. Meer as ’n jaar ná die kompetisie word Daniel se tyd steeds as NR (vir nasionale rekord) by sy profiel op Wêreldatletiek se webblad aangedui.

Daniel Paulus is nietemin die Namibiese rekordhouer in die halfmarathon (een uur 01 minuut 10 sekondes, in Gqeberha, op 4 Junie 2022).

Hy het boonop sedertdien ook Swartbooi se vorige nasionale rekord in die marathon (2:09:08) wat sedert 18 April 1994 gestaan het, oortref toe hy op 2 April verlede jaar in Daegu in Suid-Korea in 2 ure 08 minute 40 sekondes die rekordhouer geword het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Deportivo Alaves 2 vs 2 Girona SerieA: Frosinone 0 vs 5 Inter Milan #N/A Currency: GBP to NAD 23 | EUR to NAD 19.82 | CNY to NAD 2.55 | USD to NAD 18.41 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.68 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.56 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 134.06 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.6 | USD to EGP 47.35 | USD to KES 130.98 | USD to NGN 1439.8 | USD to ZAR 18.44 | USD to ZMW 26.75 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 78464.25 Up +1.19% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1754.6 Up +1.22% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13527.01 Up +0.36% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 26003.16 Up +0.05% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 360.52/OZ UP +0.59% | Copper US$ 4.62/lb UP +1.13% | Zinc US$ 2 961.00/T DOWN -0.06% | Brent Crude Oil US$ 83.21/BBP DOWN -0.0171 | Platinum US$ 995.62/OZ UP +1.05% #N/A