Swakopmund gons tydens jaarlike Napso sportweek

Skolesport
Oor ’n naweek van samesyn het 18 skole die kusdorp in ’n sportparadys verander.
Rozanne Swart

Swakopmund was die middelpunt van skolesport in die land toe honderde jong atlete laas naweek op die kusdorp toegesak het vir die jaarlikse Securitas Napso Privaatskole Sportweek.

Van 29 April tot 2 Mei het die koel kusklimaat plek gemaak vir lekker warm kompetisie en ongekende spangees.

Vanjaar se geleentheid is aangebied deur Pro-Ed Akademie, wat met uitstaande organisasie en gasvryheid gesorg het dat die week vlot verloop. As gasheerskool het Pro-Ed nie net hul fasiliteite beskikbaar gestel nie, maar ook 'n atmosfeer geskep waar vriendskappe buite die veld net so belangrik soos die punte op die telbord was.

‘n Totaal van 18 skole was byeen vir vier dae van vriendskaplike wedstryde in jukskei, skaak, boogskiet, tennis, rugby, netbal en – vir die eerste keer – virtuele fietsry.

Florinda Fourie, sporthoof van Pro-Ed Akademie, het beklemtoon dat die naweek nie gegaan het oor punte nie, maar oor vriendskaplike deelname. “By geen sportkode sit ons die tellings op nie, want alles is vriendskaplik. Alles gebeur in goeie sportmangees.”

Honderde wedstryde is afgehandel. ‘n Totaal van 502 netbalwedstryde is op elf bane gespeel, in die ouderdomsgroepe van onder 7 tot o.19. Op die rugbyveld was daar ‘n totaal van 162 tjokkerwedstryde asook 83 wedstryde in die ouderdomsgroepe o.11 tot o.19. Sommige rugbywedstryde was tien- en ander 15-aan-’n-kant.

Vanjaar was die eerste keer dat virtuele fietsry ingesluit is. Die deelnemers het gery op oefenfietse wat gekoppel was aan ‘n monitorstelsel wat die spoed en afstand van elke deelnemer kan bepaal en stoor om ‘n wenner te kan bepaal. Spanne leerlinge van elke skool, asook onderwysers het teen mekaar deelgeneem.

‘n Vriendskaplike gees het deurentyd geheers. Chrisna Joubert, een van die organiserende onderwyseresse by Pro-Ed Akademie, sê: “Die meerderheid mense was in 'n vakansie-luim en dit het bygedra tot lekker kuiers en baie gees langs die bane en tussen wedstryde.”

Sonder die druk om te presteer of wat die telbord sê, was dit ’n naweek vol sport en kuier en saamwees, waar atlete kon ervaring opdoen en hulle sport geniet en nie stres oor wen of verloor nie.

Kommentaar

Republikein 2026-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer