Portugal stapel ook vyftigtal teen o.20’s op
Portugal se junior rugbyspan het gister die krane oopgedraai om ‘n oorwinning met 67-12 teen Namibië by die Wêreldrugby Onder-20 Challenger-toernooi in Santiago, Chili, te verseker.
Die Portugese het rustyd reeds met 31-12 voorgeloop, met vyf drieë teenoor twee. Die Europese span het hul opponente in die skrums verniel en het met een van hul lynstaandrywe van die kwartlyn af ‘n drie gaan druk.
Die Namibiese linkervleuel Jayden Jansen het sy span se eerste drie gaan druk toe hy ‘n lugskop van losskakel Mc-Rein van Wyk opgevolg het om met een verdediger op sy rug in die linkerhoek oor te gaan.
Namibië se tweede drie is deur skrumskakel Dominique Isaacs gedruk, wat vanaf ‘n skrumingooi in die opponente se kwartgebied regs om gebreek en feitlik reguit pale toe genael het, afgesien van ‘n klein systap wat die teenstanders se losskakel en senter teen mekaar vas laat hardloop het. Van Wyk het die doelskop bygevoeg.
Tussendeur het die Portugal-span hul fiksheid en kondisionering vir ‘n vinnige speltempo uitgestal om die Afrika-verteenwoordiger in elke faset van die spel te oorheers.
Nadat Namibië hul openingswedstryd teen Kanada met 95-6 verslaan is, kan verwag word dat hulle in hul laaste groepwedstryd teen België komende Maandag ook klippe kan kou. Die Belge het hul openingskragmeting teen Portugal met 22-15 gewen.
‘n Uitspeelwedstryd vir die finale posisie uit die agt deelnemende lande sal op Saterdag 17 Oktober gespeel word.
• In die twee spanne se vorige direkte ontmoeting by die 2018 Wêreldrugby O.20 Trofee-toernooi in Boekarest, Roemenië, het die Portugal-span met 67-36 teen Namibië in die bronsfinaal gewen. Dit was die derde jaar op ‘n streep dat Namibië die vierde eindposisie (steeds sy beste vertoning) behaal het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie