Ooreenkoms met Duitsland hernu

Skolesport
Sportredaksie
‘n Namibiese delegasie was vandeesweek in Duitsland om die verlenging van ‘n ooreenkoms van wedersydse begrip (MoU) tussen die ministerie van onderwys, innovering, jeug, sport, kuns en kultuur en die Fussball- Und Leichtathletik Verband Westfalen E.V. te formaliseer.

Die jeugsport-uitruilprogram tussen Namibiese en Duitse skole sluit ‘n program in wat tweelingskole in die twee lande verbind.

Die hernuwing van die MoU verleng die ooreenkoms wat reeds oor 30 jaar sedert 1995 strek. In die proses word kulturele uitruiling, sportontwikkeling en bemagtiging van die jeug bevorder.

Oor die afgelope dekades, het die program reeds noemenswaardige Namibiese talent op topvlak gehelp kweek, insluitend die nasionale sokkerspelers Razundara Tjikuzu, Collin Benjamin, Willy Stephanus en ander.

Die Namibiese delegasie het bestaan uit:

Mnr. Gerard Norman Vries, uitvoerende direkteur;

Mnr. Irvine Ndjavera, adjunkdirekteur van skolesport;

Mnr. Roger Kambatuku, senior sportbeampte;

Me. Ayesha Wentworth, direkteur van programme en gehalteversekering;

Me. Levinia Karises, direkteur van finansies.

Die Jeugsport-uitruilprogram het oor die afgelope drie dekades aan jong sportmanne en -vroue internasionale blootstelling, geleenthede vir gevorderde oefenskedules en interkulturele leerervarings gebied.

Die verlenging van die ooreenkoms herbeevestig die verbintenis van beide partye om voort te gaan om in die ontwikkeling van die jeug te belê deur sport en onderwys.

Kommentaar

Republikein 2025-08-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer