Oklahoma geseën met Tuané

Atletiek
In die vreemde verbeter die Namibiër so stil-stil haar eie gewigstootrekords.
Tielman Van Lill
Die 20-jarige Tuané Silver behoort teen haar huidige koers binne die volgende paar jaar so te ontwikkel dat sy haar plek in enige gewigstootkompetisie sal kan vol staan.

Die oudskolier van Windhoek Gimnasium het die Namibiese senior gewigstootrekord twee jaar gelede agter haar naam neergepen.

Sy het in Augustus 2022 by die o.20-wêreldkampioenskap in Cali, Colombië, die maatband tot 15.95 meter laat rek nadat sy ses maande tevore die nasionale rekord op 15.24 vir die eerste keer agter haar by Charlene Engelbrecht (13.82 in 2011) oorgeneem het.

Verlede jaar was Silver nie so warm op stryk as die vorige seisoen nie.

Die eerstejaarstudent by die Universiteit Oklahoma het egter haar 2024-seisoen soos ‘n orkaan getref. Silver het vanjaar reeds aan 12 byeenkomste in die VSA deelgeneem.

Op 12 April het sy met ‘n goeie 16.10 aan die gang gekom en dit met 16.25 (19 April), 16.56 (27 April), 17.11 (23 Mei in Fayetteville, Arkansas) en 16.77 (6 Junie) opgevolg.

Silver het dus reeds vanjaar haar eie Namibiese senior gewigstootrekord van 15.95 by vier kompetisies oortref.

Indien sy voortgaan om te ontwikkel, kan sy moontlik in die toekoms vir die Olimpiese Spele en senior wêreldkampioenskap vir haar land kwalifiseer.

Die 27-jarige Sarah Mitton van Kanada, silwermedaljewenner by die 2023 wêreldkampioenskap, is met 20.68 meter volgens Wêreldatletiek se ranglys die voorste vroulike gewigstoter sover in 2024, terwyl Silver se beste van 17.11 aan haar die 99ste posisie besorg.

Die kwalifiserende standaard vir die naderende Olimpiese Spele in Parys, Frankryk (26 Julie tot 11 Augustus) is ‘n strawwe 18.80 m. Net 16 vroue kon sover vanjaar verder as die vereiste 18.80 stoot en die sperdatum vir kwalifisering is einde Junie.

Die koerant verneem dat Silver aanvanklik wel deur Atletiek Namibië in sy toerspan na die komende senior Afrika-kampioenskap (21-26 Junie in Kameroen) ingesluit was, maar dat sy onder meer vanweë oorwegings van die verskille in die Amerikaanse atletiekseisoen onttrek het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer