NRU in gesprekke met meer opponente vir 2027
Ná ‘n seisoen waarin die Namibiese rugbyspan net een amptelike toets (teen Zimbabwe) gespeel het, is daar vooruitsigte vir meer wedstrydkompetisie volgende jaar.
Die Namibië Rugbyunie (NRU) se uitvoerende hoof John Heynes het op ‘n nuuskonferensie voor die naweek gesê onderhandelinge is met verskeie internasionale spanne soos Duitsland, België en Kenia aan die gang gesit vir wedstryde volgende jaar.
Dit is benewens ‘n beoogde “African Rivalry”-reeks wat jaarliks tuis en weg tussen Namibië en Zimbabwe in die vooruitsig gestel word. Heynes het gesê wat Suid-Afrikaanse unies betref, word tans met die Stormers, Bulls en Lions oor wedstryde in 2027 gesprekke gevoer.
Heynes was aan die woord tydens ‘n nuuskonferensie waar aangekondig is dat die RecklessBear Barbarians ‘n samewerkingsooreenkoms vir vyf jaar onderteken het om tuis- en wegwedstryde teen Namibiese opposisie vas te knoop.
Die RecklessBear Barbarians was verteenwoordig deur Ettienne Viljoen, die eienaar van die sportklerasiereeks wat die pas afgelope kort toer na Windhoek moontlik gemaak het.
Die voorneme aan beide kante is om vrouerugbyspanne ook te betrek in hul visie om meer speelkans en geleenthede vir spelers te skep. Die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) se verklaarde geldelike steun vir vrouesewesrugby se kwalifiserende veldtog vir die 2028 Olimpiese Spele in Los Angeles skep ‘n drasties groter dringendheid om dié spelersgroep aktief bloot te stel as wat die afgelope jare die geval was.
Skouspel
Die Barbarians moes Vrydagaand in die Hage Geingob-stadion met 35-29 die knie buig teen ‘n sterk kombinasie van die Namibiese Welwitschias-oefengroep. Die Barbarians, met Alberton-rugbyklub as die kern en aanvanklike organiseerder van die toer, is deur verskeie ander klubspelers uit Gauteng en ander Suid-Afrikaanse provinsies aangevul wat aan proewe deelgeneem het.
Die Namibiese span het waarskynlik aan oorgerustheid gely, nadat hul sogenaamde “B”-kombinasie twee aande tevore met 40-0 voorgeloop het op pad na ‘n oorwinning met 52-26.
Vrydagaand het die Barbarians egter binne die eerste 28 minute drie drieë gaan druk om met 17-0 voor te loop. Dit het die Namibiërs bykans ‘n uur geneem om vir die eerste keer voor te loop.
Veral in die laaste 20 minute het beide spanne alles in die stryd gewerp om die redelik gelykop wedstryd te beklink, en om ná elke drie dadelik terug te slaan.
Die Barbarians het drieë deur heelagter Juandre Kleyhans (3) en losskakel Spice Lemotlo behaal. Lemotlo het ook met ‘n strafdoel en drie uit vier doelskoppe geslaag.
Die Namibiërs se driedrukkers was FNB Wanderers se agtsteman Adriaan Booysen, senter Danco Burger en slot Kistings Minyoi; FNB Kudus se vleuel Aston Mukwiilongo en skrumskakel Ray Shawn Shoombe. Denzo Bruwer (losskakel van Kudus) het met een doelskop geslaag en André van der Berg (Wanderers), wat later van buitesenter na losskakel geskuif het, het vier keer verdoel.
Jaarvergadering
Die NRU se bestemde jaarvergadering van afgelope Saterdag het misluk toe ‘n dispuut oor grondwetlike punte verhinder het dat die vergadering kon plaasvind.
‘n Kworum van klubverteenwoordigers was teenwoordig, maar die twispunt was die vorige NRU-direksie, wie se termyn in Junie verstryk het, se versuim om die jaarvergadering voor die einde van hul termyn te laat plaasvind, soos in die NRU-grondwet bepaal word.
Die NRU se raad (in wese die stemgeregtigde klubs) sal ‘n nuwe datum vir die jaarkongres vasstel. ‘n Verkiesing sal gehou moet word, met die NRU-president Petrie Theron wat aangedui het dat hy nie vir nog ‘n termyn kiesbaar sal wees nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie