Miller bly enduit aan voorpunt van Dryland Traverse
Thomas Miller van Namibië was laas naweek in die kollig toe hy as algehele wenner van die vierdaagse Dryland Traverse veldhardloopbyeenkoms in die Wes-Kaap, Suid-Afrika, uit die stryd getree het.
In die Klein Karoo en die Swartberg-omgewing naby Oudtshoorn het die 29-jarige Miller elk van die vier skofte gewen en ook die algehele oorwinning beklink.
Miller, ‘n algemene praktisyn van Windhoek, het reeds tevore in uithousportbyeenkomste soos die Visrivier-ultramarathon sy staal gewys.
Terwyl sy jonger broer Alex Miller (nou 25) as fietsryer reeds verskeie Namibiese en Afrika-titels gewen het en ook by die Statebondspele (bronsmedalje) en by twee Olimpiese Speles meegeding het, het die ouer plaasseun van Helmeringhausen sy eie pad na sportsukses gevind. Hy hou onder meer verskeie rekords in die Gondwana-groep se reeks velhardloopbyeenkomste.
Miller vertel: “Dryland Traverse is al ’n paar jaar in my planne. Ek het ’n paar jaar gelede aan ’n vorige byeenkoms in die Dryland-reeks, die Tankwa Trail, deelgeneem en was gelukkig genoeg om dit te wen.
“Die organiseerders het my destyds ’n inskrywing vir die Dryland Traverse aangebied; ek het vanjaar daarop gereageer, en aangesien hulle my van ’n inskrywing voorsien het, het ek besluit om dit vanjaar aan te pak. Dis al ’n paar jaar lank in my oorwegings, en uiteindelik het ek vanjaar die geleentheid gekry om daaraan deel te neem.
“Dis ’n redelike groot byeenkoms en gewoonlik is ’n paar sterk mededingers teenwoordig. Ek wou graag deelneem omdat dit oor vier dae strek en ’n wye verskeidenheid toestande behels.
“Die wegspring is ondergronds in die Kangogrotte, jy hardloop oor die Swartbergpas – of ten minste ’n deel daarvan – en jy beweeg ook deur van die klowe rondom die Swartberge, wat werklik ongelooflik is.
“Die toestande was heelwat natter as wat ek verwag het, en daar was nie naastenby soveel klimwerk as waarop ek voorbereid was nie, maar die omstandighede het my eintlik baie goed gepas.
“Wat my wedloopskedule betref, was dit waarskynlik een van die grootste byeenkomste van die jaar – indien nie die grootste nie. Ek het dus vier tot vyf maande lank deeglik vir hierdie byeenkoms geoefen.
“My doelwit was om die podium te haal, aangesien ek weet dat gewoonlik baie talentvolle atlete deelneem. Verlede jaar is dit byvoorbeeld deur Lloyd Bosman gewen, wat al in die top-vyf of top-ses by die Comrades klaargemaak het, en daar is ook ander baie sterk atlete in Suid-Afrika – soos Underson Ncube en John April, om net enkeles te noem – wat al voorheen aan die Dryland Traverse deelgeneem en baie goed gevaar het.
“Ek het dus geweet dat daar strawwe mededinging sou wees. Ek het gehoop om die podium te haal, en dit het uiteindelik heelwat beter verloop as wat ek verwag het.
Op die eerste dag was dit moeilik om te bepaal waar ek staan, aangesien daar nie ’n gelyktydige wegspring is nie. Deelnemers moes een vir een wegspring in tussenposes van 10 tot 20 sekondes – vanweë die beperkte ruimte gedurende die eerste kilometer wat ondergronds binne die Kangogrotte afgelê is.
“Ek het dus hard gedruk en was uiteindelik die vinnigste na die eerste deel van die proloog. Die tweede skof het ook baie goed verloop. Ek het daarin geslaag om ’n klein gaping oop te maak tydens die klimme, en toe ’n groot gaping op die lang afdraande van die Swartbergpas.
“Op die derde dag kon ek die gaping effens vergroot, en op die laaste dag kon ek uiteindelik ’n bietjie ontspan. Dit het dus veel beter verloop as wat ek verwag het.
“Die enigste uitdagings wat ek teëgekom het, was op die derde dag: ons moes nogal verskeie kere water oorsteek, wat tot redelik erge blase op jou voete aanleiding gegee het; dit het my ’n bietjie vertraag.
“Wat die kompetisie betref, was daar twee ouens wat my in sekere fases goed onder druk geplaas het; een van hulle was Robert Rorich (algeheel derde). Ek dink nie hy was heeltemal op sy piekfiksheid nie, hoewel hy ongeveer ’n maand gelede die Otter Trail gewen het – hy was dus in ’n puik toestand, maar ek vermoed hy was nog effens besig om daarvan te herstel, want ek weet hy is eintlik heelwat vinniger.
“Die ander deelnemer wat my behoorlik uitgedaag het, was Luwellyn du Toit (tweede), ’n belowende jong hardloper van Oudtshoorn. Hy is 20 jaar oud, maar hy het baie spoed; op sommige van die plat gedeeltes het hy my behoorlik laat sweet.
“Dit was waarskynlik my belangrikste wedloop van die jaar, so ek is baie tevrede met die uitslag.”
Miller se algehele tyd van 4 ure 48 minute 37 sekondes was uiteindelik met oortuigging voor Du Toit (5:04:27) en Rorich (5:20:280).
Nog ‘n Windhoeker, Willie Mac van Zyl, was algeheel vyfde (5:59:27) van die 103 mans in die wedloop, met Renata Stolze (7:19:12) algeheel 23ste en ’n uitblinker onder die 126 vroue-inskrywings (vierde solo, met drie gemengde spanne voor haar).


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie