Koedoebulle draai by 90 punte; WBPS bly klim

Skolerugby
Compack Tsumeb Gimnasium se nederlaag in sy laaste wedstryd kan hom sy plek in die topvier kos.
Andrew Poolman
Die toonaangewende titelhouer Samsung Windhoek Hoërskool en sy vername uitdager King Price Windhoek Gimnasium het beide wegholoorwinnings in die Namibiese Hoërskolerugby (NSSR) o.19 premierliga behaal.

Die onoorwonne voorloper WHS Koedoebulle het veertien drieë gedruk op pad na hul oorwinning met 90-24 teen Farmstyle Elnatan by die FNB Vegkopstadion in die hoofstad.

WHS se agtsteman en kaptein Pieter-Jan Strydom het twee drieë gedruk, terwyl die flank Isaiah Kazondovi en buitesenter Ethen Sinden elkeen drie keer oor die doellyn van die Stampriet-span is.

Nog WHS-drieë is deur die regtervleuel Xavier Bampton (2), haker Xander Cambell, heelagter William Beukes en plaasvervangers Keathan Klazen en Delarey de Klerk gedruk. Losskakel Mc-Rein van Wyk se tien doelskoppe het hom 20 punte vir die dag besorg.

Elnatan se losvoorspeler Bootje Booysen het die eerste drie gedruk toe hulle reeds met 33-0 agter was. Die slot Erik Berg en reserwevoorspeler Derick Mostert het ook drieë gedruk, terwyl losskakel Janco Esterhuizen (twee doelskoppe) en Eljandro Titus (strafdoel) ook punte behaal het.



Sestigtal by Lions Den

Windhoek Gimnasium het met 63-3 te veel skietgoed vir De Duinesig gehad, hoewel die Walvisbaaiers deurentyd hul bes gedoen het om weerstand te bied.

Vir die wenspan het die slot Buhlem Oelofsen (2), heelagter Jaydrian Jansen, losskakel Matthew Raubenheimer en senter Hanre Cocklin voor rustyd drieë gedruk (35-0), voordat die plaasvervangers Gideon van Rensburg (stut), Pieter-Stephann Stassen (senter), Jayvin du Plessis (haker) en Angelo Novella (losvoorspeler) die drieë in die tweede helfte afgerond het.

As stelskopper was Gim se senter JD Jankowitz op sy stukke deur nege uit nege doelskoppe te behaal.

Vir Gimnasium was die hardwerkende flank Fourie Steyn die kaptein vir die dag in die afwesigheid van agtsteman Vincent Scholtz, wat die vorige naweek teen OK Foods Moria ‘n stamp teen die oog gekry het. Gimnasium het heelwat van sy jonger o.16-groeplede blootstelling gegee.

De Duinesig se losskakel Sergio Pamplin het met een van sy twee strafskoppe pale toe geslaag.



WBPS bly lewendig

Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool het ‘n bepalende en deurgaans kompeterende tuiswedstryd teen Compack Tsumeb Gimnasium met 27-19 (drieë 4-3) gewen.

Die tuisspan op Naartjiepark se drieë is deur Christopher Coetzee (skrumskakel), Baron van Wyk (senter), haker MJ de Villiers en losskakel Adriaan Boonzaaier gedruk, terwyl Boonzaaier met twee doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag het.

Tsumeb se verloorbonuspunt (met tien of minder punte) is danksy drieë deur vleuel Dondre Pretorius, Jean Devenish (senter en kaptein) en stut Juan Brits verseker, terwyl senter FJ Fourie twee keer verdoel het.



Affies klop Pro-Ed net-net

Autohaus Windhoek Affies het volpunte teen Inspares Pro Ed Akademie behaal danksy sy oorwinning met 44-39 (sewe drieë teen ses) op Swakopmund, hoewel beide spanne nie meer ‘n aanspraak op die topvier het nie.

In die aanskoulike wedstryd was Affies aanvanklik agter en met rustyd gelykop. Beide afrigters (Johan Zaayman van WAP en Frans Joubert van Pro-Ed) was vol lof vir die hardlooprugby en sportmangees wat op vertoon was.

Drieë vir die wenspan is deur flank CF van Rooyen (2), stut Kobus Mouton (2), heelagter Carter Loubser, senter John Muyambango en agterspeler Christian Engelbrecht gedruk. Doelskoppe is deur Loubser (2) en Engelbrecht bygevoeg, met een strafdoel deur Loubser.

Vir Pro-Ed het sy agtsteman JC Labuschagne (twee), flanke Liam Nasilowski en Zayden Schreuder en skrumskakel De-Wet Dorn-Schnirring drieë gedruk, met nog nege waardevolle skoppunte deur losskakel Xavier Cloete. Pro-Ed het sy vaskopstut Viljoen Theart as speler van die wedstryd vereer met sy werktempo, verdediging en bydrae tot die span se momentum.



Laaste rondte

Tsumeb Gimnasium, wat nou sy wedstryde afgehandel het, kan sy plek in die topvier verloor indien WBPS komende Saterdag sy wegwedstryd teen OK Foods Moria op Outjo wen.

Jan Wilken-stadion, Walvisbaai: De Duinesig v Samsung WHS (12:00).

Swakopmund: InSpares Pro-Ed Akademie v King Price Whk Gim (12:00).

Outjo: OK Foods Moria v Namib Diesel WBPS (12:00).

Kommentaar

Republikein 2025-08-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer