Jacques Burger vul nasionale pos ná Chrysander bedank

Rugby
Die NRU se direkteur van rugby het volle vertroue in die nasionale afrigterspan.
Andrew Poolman
Vanweë werkverpligtinge en ‘n gevolglike trek van Windhoek na sy tuisdorp Walvisbaai het Chrysander Botha sy bedanking as die hoofafrigter van die nasionale span ingedien.

Botha is einde verlede jaar in die pos bekendgestel op dieselfde dag toe Jacques Burger as die Namibië Rugby-unie (NRU) se direkteur van rugby ná die vertrek van Allister Coetzee aangekondig is.

Tydens Saterdag se vriendskaplike wedstryd tussen die Welwitschias en Uganda het Burger in ‘n onderhoud met Network Media Hub se regstreekse uitsaaispan bevestig dat Botha weens ‘n onlangse skuif na die kus vanweë sy werk in die versekeringsbedryf uit die rugbypos bedank het voordat die internasionale kompetisieseisoen vir die eerste keer sedert sy aanstelling sou afskop.

“Rugby-afrigting in Namibië is ongelukkig net ‘n deeltydse werk en dit het vir hom onmoontlik geword om sy verantwoordelikhede by die rugby na te kom weens die reisafstande en sy werk wat baie tyd vereis. Dis ‘n jammerte, want Chrysander het goeie werk met die nasionale oefengroep verrig. Sy familie is ook reeds by die kus en ons ondersteun hom in sy besluit.”

Met net enkele weke voor die Rugby Afrika-toernooi in Julie, wat as die vasteland se allerbelangrike kwalifiserende geleentheid vir die 2027 Wêreldbeker in Australië sal dien, het Burger by navraag bevestig dat hyself in die posisie as hoofafrigter sal inskuif.

“Met die ekstra hande wat nodig is, het ons vir Darryl de la Harpe (FNB Wanderers; uitgetrede binnesenter in drie Wêreldbekertoernooie) as ‘n vaardigheidsafrigter bygevoeg.

“Ons het ‘n baie sterk afrigterspan, met ‘n goeie verstandhouding om insig uit verskeie oorde te bring. Ons weet dis belangrik om Namibië se kwalifiserende veldtog suksesvol op dreef te kry.”

Na afloop van Saterdag se wedstryd, wat die Welwitschias in die laaste sekondes met ‘n strafskop deur Danco Burger met 22-19 beklink het, het Burger in ‘n media-onderhoud elders gesê die Namibiese groep het redelik baie strafskoppe afgestaan. Hierdie aspek sal aandag kry voordat die Welwitschias komende Saterdag in Windhoek teen die Pumas van Mpumalanga te staan kom.

Jacques Burger het ook benadruk dat die strewe met die vriendskaplike wedstryde is om soveel as moontlik van die voorste kandidate speelkans te bied om die beste kombinasies voor die toets teen Italië op 28 Junie en die latere toer na Uganda te bevestig.

“Ons werk met ‘n jong spelersgroep, maar ons voorneme is om in ‘n hegte eenheid te ontwikkel wat sake vir enige opponent moeilik maak.”



Fyner slypwerk

Danco Burger, binnesenter en onderkaptein van die Welwitschias, het agterna gesê die vaste fasette sal opnuut aandag kry voor die Pumas-wedstryd.

“Ons was in sommige skrums onder druk en het een of twee lynstane verloor. Dit is die platform van waar ons wil aanval. Met tye het ons agterlyn ook ‘n bietjie lateral beweeg.

“Ons het dit reggekry om redelik vining te begin, maar toe het ons foute began en teen onsself gespeel. Sulke dinge kan in die Afrikabeker ook gebeur en kan jou onder groot druk plaas, maar vandag se wedstryd was ‘n goeie beginpunt vir die groep.”

Godwin Silvanus, wat die wedstryd as losskakel begin het, het gedurende die tweede helfte die veld met 'n besering verlaat, met Burger wat toe na losskakel geskuif het.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer