Greeff en Human bly die fiksste in duathlon

Duathlon
Die Triathlonfederasie het sy Duathlon Winterreeks suksesvol afgesluit.
Tielman Van Lill
Petrus Human en Anri Greeff het hul titels as Namibië se elite kampioene in duathlon suksesvol verdedig, terwyl die belowende Nathan Chase en Maja Brinkmann die nasionale louere in die junior afdeling (16 tot 19 jaar) verower het.

Die Namibiese Triathlonfederasie (NTF) het sy 2025 Winter Duathlonreeks suksesvol afgesluit met die Namibiese nasionale kampioenskap afgelope Sondagoggend buite die hoofstad.

Die byeenkoms was 'n belangrike mylpaal in die federasie se missie om 'n duidelike pad vir sy atlete na triathlon te skep.

Die Winter Duathlonreeks, wat twee jaar gelede van stapel gestuur is, het gegroei van 'n beskeie 40 tot 60 deelnemers per byeenkoms in sy eerste jaar tot meer as 100 atlete per byeenkoms in die afgelope seisoen.

Die reeks, wat uit vier byeenkomste oor die wintermaande bestaan, is afgesluit met die nasionale duathlonkampioenskap, wat Namibië se topatlete vir die groter verhoog voorberei.

As ‘n geelwortel sal die kampioene van die 2025-winterreeks die geleentheid kry – indien finansiering dit toelaat – om Namibië in 2026 by die Wêreldtriathlon Multisport-kampioenskap te verteenwoordig, wat waardevolle internasionale blootstelling sal bied.

Die NTF se president Michiel Greeff het die belangrikheid van die winterreeks benadruk.

“The Duathlon Winterreeks het ‘n hoeksteen in ons program geword om atlete te ontwikkel. Die strewe is na meer as bloot kompetisie, maar ook om geleenthede te skep, selfvertroue op te bou en die weg te baan na internasionale verteenwoordiging.”

Greeff het sy waardering uitgespreek teenoor die federasie se borge en ondersteuners, insluitend Prosperity Health, die hoofborg wat twee jaar van 100 persent toewyding gelewer het; Deopharma wat deurlopend hidrasie en watertafels verskaf om atlete se prestasie aan te help; en Hydroweld, wat die logistieke aanbieding van byeenkomste vergemaklik deur mobiele sanitasiefasiliteite.

Greeff het ook die lede van die NTF se uitvoerende komitee bedank vir hul toewyding en passie om triathlon oraloor Namibië te help groei.

“Sonder die verbintenis van ons borge en die moeitelose werk van ons uitvoerende komiteeleede, sou die groei wat ons tans sien nie moontlik gewees het nie,” het die NTF-administrateur verklaar.

Met sterk rugsteun en volgehoue groei, bou die Namibiese Triathlonfederasie momentum op om gedurende 2026 selfs beter te presteer.

Sondag se voorste uitslae:



STANDAARD DUATHLON (10 km draf, 40 km fietsry, 5 draf)

Algehele topdrie mans: 1 Petrus Human, 2 John Valentin, 3 Johan du Plessis.

Algehele topdrie vroue: 1 Anri Greeff, 2 Marion Schonecke, 3 Marcelle Eloff.

Elite mans (30 to 39 jaar): 1 Petrus Human (2 ure 5 minute 24 sekondes).

Elite vroue (30-39 jaar): 1 Anri Greeff (2:18:15), 2 Marcelle Eloff (2:50:31).

Mans 40-49 jaar: 1 John Valentin (2:14:17), 2 Johan du Plessis (2:14:39), 3 Anthony Abrahams (2:30:16).

Vroue 40-49 jaar: 1 Marion Schonecke (2:32:59), 2 Hilke Kruger (3:01:57), 3 Annaloice Penduka (3:30:29).

Mans 50-59 jaar: 1 Scott Richards (2:32:49), 2 Philipp Sonntag (2:37:41).

Vroue 50-59 jaar: 1 Marion Himmel (3:22:52).

Vroue 60 en ouer: 1 Karin Brockmann (2:52:40), 2 Berrit Graf (3:31:38).

Mans 20-29 jaar: 1 Tristan Mouton (2:31:39).



SPRINT-AFSTAND (5 km draf, 20 km fietsry, 2.5 km draf)

Junior mans (16-19 jaar): 1 Nathan Chase (59 minute 02 sekondes), 2 Matt-Reece Izaaks (1:03:10), 3 James Langford (1:19:26).

Junior vroue (16-19 jaar): 1 Maja Brinkmann (1:11:54).



SUPER SPRINT (2.5 km draf, 10 km fietsry, 1.25 km draf)

Seuns 14-15 jaar: 1 Micah Chase (32:57), 2 Flynn Middleton (34:21), 3 Stefan Kruger(38:56).

Meisies 14-15 jaar: 1 Emma Brinkmann (39:09), 2 Lilly Marschall (40:00), 3 Kyra Marschall (40:18).

Seuns 12-13 jaar: 1 Tristen Buttner (39:42), 2 Aiden Diehl (40:12), 3 Kyle Middleton (40:15).

Meisies 12-13 jaar: 1 Leonie de Lange (49:32), 2 Fleur Eloff (1:01:12).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer