Delano Vries, flank van Rehoboth, word deur Elzandro van Wyk, skrumskakel van United, gestuit. Foto Tielman van Lill
Delano Vries, flank van Rehoboth, word deur Elzandro van Wyk, skrumskakel van United, gestuit. Foto Tielman van Lill

Genadelose stryd duur voort

Premierligarugby
Tielman van Lill

Vier wedstryde in die Namibiese Rugby-unie se premierliga word Saterdag in Rehoboth, Walvisbaai en Windhoek gespeel.

In Rehoboth pak FNB Dolphin 1 vir FNB Rehoboth 1, terwyl FNB Kudus 1 gasheer speel vir Montego United 1 op Walvisbaai. By Wanderers in Pionierspark huisves FNB Wanderers 1 vir FNB Grootfontein 1 (die wedstryd word deur NTV uitgesaai). FNB Western Suburbs 1 het ’n goeie kans teen FNB Reho Falcon 1 by Suburbspark om hul eerste oorwinning van die 2026-seisoen te behaal.

FNB Grootfontein 1 het hul eerste posisie op die punteleer behou nadat hulle FNB Western Suburbs 1 verlede naweek op hul tuisveld geklop het. Grootfontein het een wedstryd meer as United en Wanderers gespeel.

Montego United 1 het na die tweede posisie opgeskuif nadat hulle ses ligapunte teen FNB Rehoboth 1 op hul tuisveld ingesamel het. Rehoboth het egter ’n bonuspunt vir hul ses drieë teen United verdien.

FNB Wanderers 1 het vyf punte teen FNB Dolphin 1 in Swakopmund gaan haal en moes noodgedwonge na die derde posisie afskuif.

FNB Kudus 1 het ’n afnaweek gehad, maar is steeds veilig in die vierde posisie. FNB Unam 1 is wel net een punt agter Kudus, maar Unam het een wedstryd meer as die Baaienaars agter die blad en bly, soos die vorige week, in die vyfde plek.

FNB Rehoboth 1 (sesde), FNB Dolphin 1 (sewende), FNB Reho Falcon 1 (agste) en FNB Western Suburbs 1 se posisies op die punteleer bly onveranderd.

Die botsing tussen Grootfontein en die Wit Hingste beloof om een vir die boeke te wees wanneer die stryd losbars. Indien Wanderers wen, kan hulle die eerste posisie op die punteleer inneem, maar dit hang alles af van die uitslag in Walvisbaai.

United gaan in Walvisbaai strawwe teenstand van Kudus kry. Dié kusspan is enige span se tier op hul tuisveld. Die Filistyne sal egter hul posisie met ’n sege wil verbeter om Grootfontein as voorlopers te onttroon.

Dolphin verwag ’n geweldige aanslag van Rehoboth. Rehoboth behoort ná verlede naweek se vertoning vol selfvertroue by die huis te wees.


Drieëfees

’n Allemintige twee-en-veertig drieë is verlede Saterdag in vier premierligawedstryde aangeteken. Die meeste (16 vyfpunters) is tussen United en Rehoboth gedruk.

Montego United 1 (10 drieë) – FNB Rehoboth 1 (6) vir 16; FNB Unam 1 (7) – FNB Reho Falcon 1 (3) vir 10; FNB Wanderers 1 (4) – FNB Dolphin 1 (2) vir 6; en FNB Grootfontein 1 (8) – FNB Western Suburbs 1 (2, insluitend ’n strafdrie) vir 10.


Puntestand

  1. FNB Grootfontein 1 (43 punte) – 50 drieë
  2. Montego United 1 (41) – 57
  3. FNB Wanderers 1 (40) – 55
  4. FNB Kudus 1 (26) – 42
  5. FNB Unam 1 (25) – 39
  6. FNB Rehoboth 1 (17) – 29
  7. FNB Dolphin 1 (14) – 35
  8. FNB Reho Falcon 1 (9) – 27
  9. FNB Western Suburbs 1 (1) – 21

 

Kommentaar

Republikein 2026-07-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer