Finaliste vir Sondag lyk onvoorspelbaar

Krieket
Andrew Poolman
Twee semifinale met potensiaal vir intrige is Saterdag in die vooruitsig, voordat die twee finaliste mekaar Sondagoggend om die wentrofee van Krieket Namibië se T20 premierliga sal takel.

Met net vier klubs wat in die premierliga meeding, het selfs die vierde geplaaste en wenlose APS Wanderers dus nog ‘n lewendige kans om met ‘n tydige regrukpoging vir ‘n onaangename verrassing te sorg.

Wanderers is die verdedigende titelhouer wat dit egter nog nie in een van sy ses wedstryde reggekry om die knoop deur te haak nie (vyf verloor; een onbeslis).

Hul opponente Trustco United het boaan die puntelys klaargemaak met vyf oorwinnings en een nederlaag.

In laas Saterdagoggend se verkorte kragmeting (15 boulbeurte per span) by die Wanderersveld het United (109/9) spiere gebult deur ATG WHS Old Boys tot 54/9 te beperk.

Die kolftoestande was egter gewis nie van die maklikste nie. United se gebruiklike lopiemasjiene WP Myburgh (4), kaptein Zane Green (1), Handre Klazinga (0), Erik Lintvelt (0) en Michael Müller (9) kon dié keer weinig bydra.

Vir United het Gerhard Janse van Rensburg met 22 van 17 balle (een vier, twee sesse) en later die nommer agtkolwer William Lottering (26 van 22 balle; 4x4) en nommer nege Markus van Heerden (19 van 12 balle;1x4 2x6) gehelp om minstens ‘n driesyfertotaal te help bereik.

Jack Brassell (2/26 in 3 bb) en Shaun Fouché (2/15 in 3) het vir WHS Old Boys goed geboul.

WHS se aanvangskolwer Zacheo van Vuuren was nie in staat om te gaan kolf nie, nadat hy as veldwerker ‘n vinger gebreek het toe hy met ‘n bal raakgeslaan is.

In Old Boys se kolfbeurt het feitlik niks reg geloop vandat Francois du Plessis (0) en Adriaan Coetzee (2) binne die eerste twee boulbeurte uit is nie. Dylan Leicher (6), Luca Minillo (0), die kaptein Shaun Fouché (17 van 14 balle; 2x4) en Jandré de Jager (0) se paaltjies het WHS op 28/6 in 7.4 bb laat steier.

Jack Brassell (22 van 17 balle; 2x4 1x6) het moedig probeer en was die laaste man uit.

William Lottering is as speler van die wedstryd aangewys vir sy drie paaltjie vir agt lopies in 3.0 boulbeurte. Markus van Heerden het 2/9 in 1.3 bb geneem.

• Laas Saterdag se ander bestemde wedstryd tussen Wanderers en CCD Tigers moes weens reënerige weer en onspeelbare toestande afgelas word sonder dat ‘n bal geboul is.



TOPDRIE LOPIEMAKERS

1 Louren Steenkamp (WHS Old Boys) 332 lopies in vyf kolfbeurte; twee vyftigtalle, een honderdtal; 20 sesse en 24 viere; hoogste 105; kolftempo 168.5.

2 Gerhard Janse van Rensburg (United) 180 lopies in ses kolfbeurte; hoogste 46; kolftempo 104.6.

3 Zane Green (United) 176 lopies in ses kolfbeurte; hoogste 49; kolftempo 153.



TOPDRIE PAALTJIENEMERS

1 Ruben Trumpelmann (United) tien paaltjies; een driekuns; beste 5/25.

2 Adriaan Coetzee (WHS Old Boys) nege paaltjies; beste 3/5.

3 Shaun Fouché (WHS Old Boys) sewe paaltjies; beste 3/20.



Krieket Namibië T20 premierliga semifinale Saterdag

• Wanderersveld, semifinaal 1 [1ste tn 4de]: Trustco United tn APS Wanderers (09:00).

• Wanderers field, semifinaal 2 [2de tn 3de]: ATG WHS Old Boys tn CCD Tigers (14:00)

FINAAL: Sondag 08:00 by Wanderers.

Kommentaar

Republikein 2025-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer