Eerste Hyrox laat Jolene se passie weer floreer

Fiksheid
Andrew Poolman
Die voormalige Namibiese kampioen-naelloper Jolene Jacobs het ‘n nuwe passie vir die fiksheidsport Hyrox ontwikkel, met haar eerste deelname in Kaapstad wat vir haar verdere aanmoediging bied.

Op die atletiekbaan was Jacobs (nou 33) tussen 2017 en 2021 ‘n viermalige nasionale titelhouer in die 100 meter vir vroue, asook ‘n lid van die 4x100 aflosspan (met Beatrice Masilingi, Christine Mboma en Ané Rautenbach) wat in 2021 die nasionale goue medalje in ‘n destydse Namibiese rekordtyd verower het.

Sy erken ruiterlik dat sy lank gesukkel het om vrede te maak met ‘n noodgedwonge rekonstruksie van ‘n agterdyspier wat die einde van haar dae as ‘n kompeterende naelloper meegebring het.

Op die kruin van haar loopbaan (persoonlike beste 11.35 en 23.66 in die 100 en 200) het sy redelik gereeld in byeenkomste in Afrika en Wes-Europa meegeding, onder meer in die binnenshuise 60 meter-naellope.

Vir die Hyrox-uitdaging het sy ‘n goeie vriend, Paul Joubert (22), aanlyn as spanmaat gekry. Die twee ken mekaar goed vandat sy hom met afrigting bygestaan het toe hy in sy skooldae by Moria Privaatskool op Outjo ook ‘n naelloper was. Joubert is ook ‘n Namibiër wat deesdae op Stellenbosch woon.



Groei in gewildheid

Die Hyrox Cape Town-byeenkoms het bykans 7 000 deelnemers gelok, wat óf as individue óf in spanne (mans, vroue of gemeng) kon meeding.

“Die Hyrox-byeenkomste in Kaapstad en Johannesburg het veral die laaste twee jare geweldig gegroei. Dis ‘n sport vir enige mens, jonk of oud, oorgewig of ondergewig, met ‘n afdeling vir diegene met gestremdhede ook ingesluit. Die aanmoediging van almal terwyl jy deelneem, maak dit ‘n spesiale ervaring.

“Ons het so agt weke voor die byeenkoms besluit om in te skryf en onsself gereed te kry. Ons het nie werklik geweet waar om te begin nie, maar ons het ‘n aanlyn oefenprogram opgespoor en aan die werk gespring, al woon en werk ek op Erindi en Paul is op Stellenbosch.

“Van die begin af was ons in ons koppe sterk. Wanneer ons getwyfel het, het ons mekaar weer moed ingepraat. Soms het iets voorgeval wat verhinder het dat ons so gereeld kon oefen as wat ons beplan het.

“Ek het ‘n paar masjiene aangekoop en buitebande rondgesleep. Ons het maar geoefen met wat ons het, in ons strewe om beter te word. Eers in die laaste twee weke voor die groot dag kon ons werklik saam oefen.

“Met die spesifieke baan van agt uitdagings in ag geneem, het ons ons aanvanklike doelwit gestel om in een uur en vyf minute klaar te maak, wat ons algaande tot ‘n meer realistiese 1:20 aangepas het. Ons het besluit om nie ons vertoning te vergelyk met spanne wat reeds vir langer tye saam oefen nie.”



Ongelooflike gevoel

Jacobs en Joubert se uiteindelike eindtyd was een uur 16 minute 28 sekondes. Dit het hulle in die 137ste posisie uit 546 gemengde spanne geplaas.

“Ek is baie tevrede met hierdie vertoning en dit was ‘n ongelooflike gevoel. Gedurende die kompetisie gaan dit maar rof. Jy kry krampe en jy voel maar op jou senuwees.

“Vir ‘n eerste keer reken ek ons het ons goed van ons taak gekwyt; ek voel die gogga het gebyt. Ons beplan om vir volgende jaar weer in te skryf en vir onsself ‘n meer behoorlike tyd ter voorbereiding te gee.

“Dis ‘n uitdaging wat enigiemand kan aanpak en wat jou liggaam nie soveel erge houe toedien nie, tensy jy dalk in minder as ‘n uur en 10 minute wil klaarmaak wat nogal rof is. Vir jou gesondheid is dit ‘n goeie ding, vir enigiemand wat dit wil probeer.

“Ná my atletiekloopbaan het ek vir drie jaar met myself geworstel om weer ‘n sport te vind waarin ek met passie kon deelneem, sodat my frustrasies nie in die werkomgewing na vore kom nie.

“Ek het fietsry probeer, maar ek het nie daarby aanklank gevind nie. In Hyrox voel ek die vlinders in die maag voor ‘n kompetisie, soos ek as ‘n baanatleet beleef het.”



Bekendes

Die voormalige Springbok-rugbyvleuel Stefan Terblanche (50) was een van die hoëprofiel gewese topsportmanne wat in Kaapstad deelgeneem het.

Jacobs sê die wenspan in die gemengde afdeling se wentyd (52 minute 16 sekondes) is genoeg om enige gewone mens naar te maak. Dit is amptelik die vierde vinnigste op die wêreldrekordlys in dié klas, en bykans vier minute voor enige van hul uitdagers.

Die gemengde wenspan was die Suid-Afrikaners Danél Louw (Hyrox-atleet en ‘n persoonlike afrigter) en Kyle Schoonbee, ‘n 29-jarige Olimpiese roeier in Tokio 2021.

Volgens Jacobs het tussen 15 en 20 Namibiërs in die Kaap meegeding. Die Windhoekers Rykie Jonck en Loubser Kirsten was veral indrukwekkend (15de van die gemengde spanne, in 1:04:22).

Kommentaar

Republikein 2025-07-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer