Beseerde kaptein huis toe, terwyl Ierland ’n ommeswaai soek

Krieket
Lorcan Tucker neem waar as Ierland se kaptein, terwyl Tim Tector as ’n plaasvervanger ingevlieg word.
Andrew Poolman

Ierland se krieketkaptein, Paul Stirling, is weens ’n gebreekte vinger buite rekening vir die res van sy span se toer in Namibië.

Die Iere is onder groot druk om vandag by die FNB Namibië-krieketstadion teen die FNB Eagles te wen en sodoende die verleentheid van ‘n reeksnederlaag te begin afweer. Die vyfde en moontlik beslissende eendagwedstryd kan Sondag eweneens vir ‘n skouspel soos min sorg.

Tim Tector is as plaasvervanger ingevlieg, terwyl Lorcan Tucker as kaptein sal oorneem.

Ierland het laas Donderdag die eerste van vyf eendagwedstryde (ODI's) in Windhoek met 55 lopies gewen, maar is nou met 2-1 agter ná twee agtereenvolgende nederlae.

Ierland is ‘n volle lidland (met toetsstatus) van die Internasionale Krieketraad en 12de op die wêreldranglys in die eendagformaat, terwyl Namibië een van die lande met assosiaatstatus is (16de).

Die toerspan is Saterdag vir 290 lopies uitgeknikker terwyl hulle ’n teiken van 322 gejaag het, en het Dinsdag in die derde eendagwedstryd met 63 lopies verloor, ten spyte van ’n honderdtal deur Curtis Campher.

Die 36-jarige Stirling het tydens veldwerk in die derde eendagwedstryd ’n besering opgedoen en kon nie kolf toe Ierland die teiken probeer jaag het nie.

“Terwyl hy veldwerk gedoen het, het hy geduik vir ’n lae vangskoot van ’n kragtige kaphou deur Jan Frylinck (wat ‘n honderdtal behaal het en as speler van die wedstryd aangewys is).

“Die bal het sy vingerpunt getref en die fraktuur veroorsaak,” het Krieket Ierland Woensdagmiddag in ’n verklaring gesê.

“’n Ondersoek in die hospitaal gisteraand het die besering bevestig, en Stirling keer nou terug huis toe vir herstel en rehabilitasie,” het die verklaring bygevoeg.

Tucker het ná Ierland se uitskakeling uit die T20-wêreldbeker vroeër vanjaar by Stirling oorgeneem as kaptein vir T20-internasionale wedstryde. Hy was ook aan die stuur toe Ierland in Junie ’n verrassende 2-0-reeksoorwinning oor die wêreldkampioen, Indië, behaal het. Hy het nog nooit voorheen as kaptein in ’n EDI opgetree nie, hoewel hy Dinsdag oorgeneem het toe Stirling beseer is.

Tector, wie se ouer broer Harry reeds ’n sleutelspeler vir Ierland is, het sover agt internasionale T20-wedstryde vir Ierland gespeel, maar moet nog sy ODI-debuut maak. Hy sal voor die vierde ODI op Vrydag in Namibië aankom en daarna in Suider-Afrika bly vir die Ierland Wolwe se toer na Zimbabwe.

 

BESTENDIGHEID

Gerhard Erasmus het ná Dinsdag se wedstryd groot trots uitgespreek oor sy span se opeenvolgende oorwinnings en oor hul huidige opwaartse neiging; hy beklemtoon dat ware leierskap in ‘n span juis na sulke bestendigheid streef.

Hoewel hy daarop wys dat die volgende wedstryd ’n heeltemal nuwe krieketervaring sal wees, prys hy die span omdat hulle uitstekend herstel het ná die emosionele hoogtepunt van hul historiese eerste oorwinning teen ’n toetsland.

Erasmus het gesê ná ’n paar ernstige interne gesprekke oor swak veldwerk en boulwerk in die vorige wedstryd, was dié vertoning uiters klinies – al is daar steeds ’n paar klein aspekte wat op die tekenbord reggestel moet word.

Hy het enkele wedstrydbepalende oomblikke uitgelig, soos die skouspelagtige uithardloopkanse wat aangegryp is, en het veral die fiksheid en onvermoeide vasberadenheid van spelers soos Malan Kruger geloof.

Erasmus het beklemtoon dat, hoewel sulke deurslaggewende verdedigende stukkies spel selde ewe veel lof as individuele honderdtalle ontvang, dit ewe veel waarde het, aangesien dit dikwels juis dié oomblikke is wat krieketwedstryde wen.

• Namibië se “A”-vrouespan, die Capricorn Eagles, loop ook met 4-0 voor teen die besoekende Ierland o.19-vrouespan, ná twee oorwinnings Woensdag in die T20-reeks van ses wedstryde.

Wedstryde 5 en 6 word beide Saterdag by die HP-ovaal gespeel (09:00 en 14:00), nadat Mekelaye Mwatile (twee keer) en haar suster Wilka Mwatile die mees onlangse toekennings as speler van die wedstryd gekry het.

Kommentaar

Republikein 2026-10-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer