Bergh (17) stel rekords op voor vertrek na Argentinië

Swem
Die junior wêreldkampioenskap in oopwaterswem word van 3 tot 6 September in Santa Fe, Argentinië, aangebied.
Andrew Poolman

Die vierde kortbadgala van die Namibiese Watersportfederasie (Nasfed) se 2026-seisoen, in samewerking met die hoofborg Bank Windhoek, is Saterdag ná drie dae van gelyktydige, mededingende swembyeenkomste in drie streke – Khomas, Erongo en ||Kharas – afgesluit.

Die gala, wat van Donderdag tot Saterdag aangebied is, het swemmers uit die junior, jeug-, senior en meesterskategorieë byeen gebring.

Die uitstaande prestasie van die gala is deur die 17-jarige Madison Bergh van die Marlins-swemklub gelewer, wat drie nasionale rekords (een ope-rekord, twee ouderdomsrekords) tydens die kompetisie verbeter het.

Bergh het in ‘n onderhoud gesê sy voel goed oor die pad van ontwikkeling waarop sy tans is.

“Oor twee weke vertrek ek na Argentinië vir die junior wêreldkampioenskap in oopwaterswem. Ek is baie opgewonde en optimisties oor my swempeil en hoe ek in die laaste tyd spierkrag opgebou het. My afrigter en gimnasium-instrukteur het my op ‘n goeie program geplaas.

“Ek is gemotiveerd om goeie uitslae in Argentinië te behaal; ons het ‘n lang tyd hiervoor geoefen.”

Bergh het ’n tyd van 4:29.11 in die 400 meter vryslag aangeteken, waarmee sy ’n nasionale ope-rekord vir vroue verbeter en terselfdertyd ’n nuwe rekord vir die meisies-ouderdomsgroep 17-18 opgestel het.

Sy het dit opgevolg met ’n indrukwekkende 9:19.79 in die 800m-vryslag, wat ’n nuwe nasionale rekord in die meisies-ouderdomsgroep 17-18 daarstel.

Die uitslae het nog sterk vertonings in verskeie ouderdomsgroepe ingesluit – van die jongste swemmers tot seniors en meesters – en het ’n belangrike geleentheid vir swemmers gebied om hul vordering te bepaal, ervaring op te doen en kwalifiserende standaarde na te streef.

Hoewel sommige swemmers gedurende die naweek deur seisoenale griep geraak is, was die algehele uitkoms van die gala uiters positief.

Nasfed wens elke swemmer wat deelgeneem het geluk en erkenning gee aan die afrigters, beamptes, vrywilligers, ouers en ondersteuners wie se pogings tot ’n suksesvolle geleentheid bygedra het.

Spesiale dank gaan aan Bank Windhoek, die hoofborg van die NASFED-kortbaangala, vir sy volgehoue belegging in swem en die ontwikkeling van Namibiese atlete.

Die volgende groot geleentheid op die plaaslike swemkalendar is Nasfed se nasionale kortbadkampioenskap, ook geborg deur Bank Windhoek, wat van 23 tot 27 September geskeduleer is.

Kommentaar

Republikein 2026-08-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer