Barbarians leef swaar teen Wikus se manne
Die haker Wikus Jacobs van FNB Grootfontein het van die voorpunt gelei as kaptein toe die Welwitschias XV Woensdagaand ‘n oortuigende oorwinning met 52-26 teen die RecklessBear Barbarians opgestapel het.
Die vriendskaplike toerwedstryd was die eerste van twee geleenthede in die Hage Geingob-stadion. Die twee wedstrydgroepe sal die toer Vrydagaand met nog ‘n wedstryd afsluit (19:00), met beide wat van hul meer ervare grofgeskut speelkans sal gee.
Die RecklessBear Barbarians is ‘n Suid-Afrikaanse kombinasie van amateur-klubspelers vir wie ‘n toergeleentheid in Namibië geskep is met die kans om hulself teen die plaaslike nasionale oefengroep op te weeg. Gautengse klubs onder die vaandel van die Leeus oorheers die toergroep, hoewel spelers van klubs onder die Valke, Luiperds en Haaie ook ná proewe die pyp gerook het.
Woensdagaand se eerste helfte sou as ‘n skok vir die besoekers gekom het, toe die Namibiërs rustyd reeds met 40-7 voorgeloop het.
Die Welwitschias XV het ná 33 minute met 40-0 voorgeloop en hul verdediging het sonder werklike probleme enigiets hanteer waarmee die Suid-Afrikaners vorendag kon kom. Selfs wanneer die toerspan tot in die aanvallende kwartgebied gevorder het, was dit ‘n kwessie van tyd voordat die Namibiërs met opskietverdediging ‘n fout sou afdwing en met ‘n teenaanval straf sou uitdeel.
Drieë deur die vleuels Keno Shetukana (Unam, twee) en Manfred Garoëb (Rehoboth), stut Harry Ngasia en haker Wikus Jacobs (beide Grootfontein) en skrumskakel Ray-Shawn Shoombe (Kudus) is in die eerste helfte met vyf uit ses doelskoppe deur Wanderers se losskakel Wiks Tromp aangevul.
In die tweede helfte het heelagter Irongwa Atshivudhi nog ‘n verdoelde drie bygevoeg. Vier minute later het hy opnuut deurgenael, maar skeidsregter Romario de Koker het die “drie” weens obstruksie gekanselleer. Vir wat ‘n derde drie kon wees, het Atshivudhi toe boonop ‘n maklike aangee laat val toe hy dwarsdeur sou wees.
Vanaf een van die Namibiërs se vele doeltreffende lynstaandrywe het die Kudus-flank Lezardo Vos hul laaste drie gaan druk, wat Shoombe nie kon verdoel nie.
Die Barbarians het wel in die tweede helfte heelwat beter samespel begin vind en sal optimisties oor hul vertonings in die skrum wees. Hul drieë is deur skrumskakel Erhard Geyser, sy plaasvervanger Max Williamson, flank Siyabonga Madonsela en reserwestut Dawid Daffue gedruk, met drie doelskoppe deur losskakel Dian van der Berg.
Wikus Jacobs het agterna in die TV-onderhoud gesê hy is trots op die spanwerk van ‘n meestal jong groep met beperkte ondervinding.
“Die wedstryd het meer kompeterend geraak toe die Barbarians van hul meer ervare spelers opgestuur het, maar ons het as ‘n groep lekker gespeel. Dit was nie net 23 spelers nie; ons is ‘n groep van omtrent 60 wat hierdie wengevoel deel.
“Elke ou het sy geleentheid gekry en weet nou hoe dit voel om op hierdie vlak te speel. Dis waaroor dit gaan; ons bou en bou en raak beter.”
• In die voorwedstryd het die Barbarians wel hul kanse gebruik om die sewesrugby-kragmeting met 22-10 te beklink (rustyd 10-5). Die Namibiërs se enigste twee drieë is deur voorspeler Delano van Wyk (Rehoboth) en vleuel Soobramoney Sammy (United) gedruk.
• Sewesrugby sal vanaand opnuut die program om 18:00 aan die gang sit, voor die 15-rugbywedstryd ‘n uur later afskop.
Die NTV-produksiespan sal beide die sewesrugby- en 15’s-wedstryde regstreeks uitsaai.
Seweswedstryd (18:00)
https://oneuptwo.com//show?fk645zqgyzvqlckrpdst
15’s-wedstryd (19:00)
http://oneuptwo.com//show?schsrj2ag43jsc4fukow


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie