Vier in premierliga ontmoet by tienmandag

Klubrugby
Andrew Poolman
Die Trustco United tien-aan-’n-kant rugbytoernooi by dié sportklub in Olympia bied vandag en môre aan die deelnemende klubs die tradisionele voorseisoense losmaker vir die plaaslike klubrugbyseisoen wat aanstaande maand in erns behoort te begin.

Net vier van die premierligaklubs het spanne vir die hoofkompetisie ingeskryf, met FNB Unam afwesig nadat hy laasjaar die tienmantoernooi se eindstryd teen Wanderers gewen het.

Die viertal wat die kans wil gebruik om van hul premierligaspelers se huidige fiksheid- en vaardigheidsvlakke in die tienmanformaat deur te kyk, is FNB Wanderers (laas jaar se verslane finalis), Trustco United, FNB Grootfontein en FNB Kudus.

Die reserweliga sal met tien spanne ’n veel meer betwiste titelstryd afgee, wat in twee groepe verdeel is. Groep A bestaan uit Dolphins I van Swakopmund, die Keetmanshoop Rams, Kudus II, United II en Vipers II. Groep B se vyf spanne is Grootfontein, Mariental, Sparta van Walvisbaai, die United Barbarians en Wanderers se tweede span.

Die vrouekompetisie is vanjaar ook kleiner, met net drie deelnemende spanne – United, Wanderers en die besoekende Kudus.

Die toernooi begin vandag met vier wedstryde om 18:00 (United II tn Vipers), 18:25 (United Barbarians tn Wanderers II), 18:50 (United vroue tn Wanderers vroue) en 19:15 (premierliga, United tn Wanderers).

Môre hervat dag twee vanaf agtuur met nog groepwedstryde, totdat die reserweliga se semifinale om 18:25 en 18:50 bestem is. Die vroue se finaal is 19:25, die reserweliga se eindstryd om 19:40 en die hoofwedstryd in die premierliga om 20:05.

FAST FIVE-NETBAL

United Netbalklub bied vandag en môre die Jack Le Roux Fast 5 toernooi aan.

Nege spanne sal meeding, naamlik Five’s Alive, Pasop Broers, Purple Bullets, Supremas, Heavenly Candy, Goal Getters, Hustle, Fun-tastics11, asook Hou by die Blou.

In totaal is 36 wedstryde in die toernooi geskeduleer, met die eerste fluitjie vandag om 18:15 en die laaste wedstryd môre 16:50.

Die spanne in die topdrie posisies sal N$2 000, N$1 500 en N$1 000 verdien, afgesien van gesnkepakke vir die bes geklede span, beste vrouespeler en beste manspeler in die toernooi. Verversings word verkoop en die hele gesin is welkom.

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer