Unam val uit voor semifinaal

Klubrugby
Andrew Poolman
Die topvier klubs is bepaal wat komende naweek die semifinale van die Namibië Rugbyunie se premierliga vir 2025 gaan betwis, ná ‘n aksiebelaaide naweek waarin FNB Unam se neerlaag met ‘n enkele punt tot sy uitskakeling gelei het.

In ‘n dramatiese wedstryd in Windhoek het FNB Kudus met 40-39 die oorhand teen Unam gekry, nadat beide spanne ses drieë gedruk het. Rustyd was Kudus met 21-17 voor, met twee drieë elk deur vleuels Lucio Isaacs en Aston Mukwiilongo en vyf doelskoppe van Rayshawn Shoombe wat die knoop help deurhaak het. Kudus se tweede eindposisie was reeds verseker, terwyl Unam se desperate eindpoging uiteindelik vergeefs was.

Vir die tweede opeenvolgende jaar het FNB Grootfontein in die topvier klaargemaak, danksy sy tuissege met 41-39 teen ‘n omgekrapte FNB Rehoboth. Kaptein Wikus Jacobs was een van sewe driedrukkers vir die noordespan, wat derde geëindig het.

Die titelhouer FNB Wanderers het op sy tuisveld sy ligaseisoen onoorwonne afgesluit deur FNB Western Suburbs met 78-21 te karnuffel. Vleuel Jurgen Meyer het vier drieë gedruk, met nog drie deur Danco Burger wat die losskakel en kaptein was.

Trustco United het die vierde posisie beklink deur sy wegwedstryd teen FNB Dolphin met 59-28 te wen en ‘n semifinaal teen Wanderers te verseker. Kaptein JD Nel (drie drieë) en skrumskakel Enrique Husselmann (een drie, sewe uit nege doelskoppe) was uitblinkers.

Die halfeindstryd-bepalings vir komende Saterdag by Hage Geingob-stadion:

NRU reserweliga: (1ste tn 4de) – FNB Unam II tn FNB Dolphin II; (2de tn 3de) – FNB Wanderers II v FNB Kudus II.

NRU premierliga: FNB Wanderers v Trustco United; FNB Kudus v FNB Grootfontein.

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer