Ultra-ysters bring valbyl na Uis

Uithousport
Die langste van die langasems keer terug na Uis vir môre se tweede weergawe van die Brandberg Backyard Ultra, waar in Julie verlede jaar op dieselfde dorp geskiedenis gemaak is met die eerste aanbieding in Namibië.

Verlede jaar se ondervinding sal handig te pas kom in hierdie mees uitmergelende toets vir liggaam en gees in die formaat van “die wedloop sonder ’n eindstreep.”

’n Backyard Ultra is ’n ultrawedloop waarin deelnemers een uur tyd het om ’n baanrondte van 6.706 kilometer te voltooi. Enige oorblywende tyd kan vir rus of herstel gebruik word, voordat die volgende rondte saam met die aanbreek van die volgende uur begin.

Geen tydhouding geskied nie. Hardlopers beweeg so vinnig of stadig as wat hulle wil – solank hulle een uur later weer by die beginstreep aantree. Diegene wat nie betyds vir die volgende rondte is nie, word uitgeskakel.

Die wenner van die wedloop is die persoon wat langer as enige ander aanhou, om ’n enkele baanrondte alleen te voltooi.

Verlede jaar het André Ross (50) van Swakopmund twintig rondtes (134 km) voltooi, nadat die 41-jarige Frans Amakali ná 19 rondtes halt geroep het.

Kirsty Brits (42) was die laaste vrou in die wedloop, met agt rondtes (54 km).

Die baanrondte se afstand (6.706 km) is die antwoord indien 100 myl (160 km) deur 24 uur gedeel word.

Môre se Brandberg Backyard Ultra bring Namibië se mees formidabele langasems bymekaar – insluitend meer as tien voltooiers van vanjaar se onlangse Comrades (88 km). Name soos Risa Dreyer Burger, Marietjie du Plessis, Les Trollope, Johan Bronkhorst, Buks Gous, André Ross, Frans Amakali, Harmen Potgieter, PC Visser, Liezl Swanepoel, Kirsty Britz en andere sal sorg net voornemende wenners hul A-wedloop sal moet uithaal.

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer