Toerspan nog dié week voltallig

Rugby
Andrew Poolman
Stilswye heers steeds uit die geledere van die Namibiese rugbyspan oor die twee bykomende spelers vir die 2023 Wêreldbekergroep, ondanks die feit dat die laaste van die drie reisgroepe reeds gisteraand uit Windhoek sou vertrek.

Net 31 van die 33 name is op Maandag 21 Augustus uitgelees, met die voetnota dat nog twee bevestig moes word.

Obert Nortje se verskyning op foto’s in sosiale media met die Wêreldbeker-spanlede versterk die siening dat hy as een van drie hakers ingesluit sal word. Sy bedrywige vertoning as baldraer en verdediger toe hy laas naweek vir die tweede helfte teen die Vodacom Bulle opgestuur is, het sy aandele waarskynlik verder laat styg.

Die koerant verneem dat een van die Namibiese buite-agterspelers wie se naam in die uitsoekgroep na Frankryk uitgelees is, teen die Bulle ’n dyspierbesering vererger het wat op die toer na Suid-Amerika ontstaan het en dat dié speler ook vervang moet word.

Oor die voltooiing van die bevestigde spelersgroep het die president van die Namibië Rugbyunie, mnr. Petrie Theron, gister aan die koerant gesê: “Ons wag nog op mediese uitslae voordat ons ’n beslissing maak. Ons moet Wêreldrugby teen Vrydag laat weet. Dan sal almal van die media ook ingelig word.”

Die eerste reisgroep – meestal die spanbestuurslede en enkele senior spelers – het reeds gisteraand by die span se basisdorp vir die toernooi, Aix-le-Baines, aangekom, terwyl nog twee reisgroepe gister sou vertrek.

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer