Die Onafhanklikheidstadion in Windhoek. FOTO ARGIEF
Die Onafhanklikheidstadion in Windhoek. FOTO ARGIEF

Stadionsyfers klop nie

Mariud Ngula
Die N$235 miljoen wat toegeken is aan die regering se ambisieuse program om 13 sportstadions tydens die huidige finansiële jaar te bou en op te knap, is ’n druppel aan die emmer vergeleke met vroeë beramings dat die herstel van die Onafhanklikheidstadion in Windhoek alleen ’n yslike N$2 miljard gaan kos.

Die regering moet verseker die geriewe voldoen aan die standaarde van die Confederation of African Football (CAF), met nasionale sokkerspanne insluitend die land se nasionale span, die Brave Warriors, wat tans gedwing word om amptelike tuiswedstryde in die buiteland te speel.



HERSENSKIM

Die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, het tydens haar begrotingsmotivering vandeesweek gesê die N$235 miljoen is vir die konstruksie van ses CAF kategorie 2- en sewe CAF kategorie 3-stadions.

Die CAF kategorie 2-streeksportstadions sal N$35 miljoen ontvang, sowat N$6 miljoen per stadion. Hulle sal elk ’n sitplekkapasiteit van sowat 10 000 hê, soortgelyk aan Windhoek se Sam Nujoma-stadion, wat sowat 20 jaar gelede N$64 miljoen gekos het. Hierdie stadions word vir Omuthiya, Gobabis, Mariental, Katima Mulilo, Otjiwarongo en Nkurenkuru beplan.

Altesaam N$200 miljoen is aan die CAF kategorie 3-stadions toegeken om die nasionale span in staat te stel om sy tuiswedstryde op eie bodem te speel. Dié stadions sal in Oshakati, Rundu, Outapi, Swakopmund, Eenhana en Keetmanshoop gebou word, met opgraderings wat vir Windhoek se Onafhanklikheidstadion beplan word.

Volgens Steenkamp is dit in ooreenstemming met Swapo se manifes-implementeringsplan wat ten doel het om die stadions voor die volgende verkiesing in 2029 te voltooi.

Vroeër vanjaar het die sportministerie se uitvoerende direkteur, Erastus Haitengela, bevestig dat ’n uitvoerbaarheidsverslag die koste van die opknapping van die Onafhanklikheidstadion alleen op N$2 miljard beraam het. Die huidige begroting van ongeveer N$200 miljoen vir sewe stadions—waarvan die meeste van die grond af gebou sou word—het dus ernstige kommer laat ontstaan.



TIKFOUT?

Brave Warriors-legende en sokkerklubeienaar, Congo Hindjou, het gesê die regering se begrotingstoewysing strook nie met sy ambisieuse planne nie.

“Die grootpratery en die werklike geld strook nie met mekaar nie,” het Hindjou gesê.

Hy het verwys na Haitengela wat gesê het die konstruksie van ’n kategorie 3-stadion gaan meer as N$2 miljard kos.

“Ons het hom op TV gesien waar hy dit sê. Dit is dus skokkend dat die regering glo hy kan begin om 13 stadions vanjaar te bou met net N$235 miljoen wat hiervoor begroot is.

“Selfs net die opknap van net die Onafhanklikheidstadion gaan beduidend meer kos. Miskien was daar ’n tikfout in die syfers wat deurgegee is, dit moet ’n tikfout wees!” het hy gesê.

Met verwysing na die Onafhanklikheidstadion het Steenkamp gesê haar ministerie het al ver gevorder met gedetailleerde ontwerpe en dokumentasie wat tans ontwikkel word.

“Sodra dit gefinaliseer is, sal die verkryging van konstruksiedienste begin. Die uitvoerbaarheidstudie het ook aanbeveel om bykomende grond rondom die bestaande stadion te verkry om die beplande opgraderings te akkommodeer,” het sy gesê.



HERONTWERP

Die veteraan-sokkerkommentator Olsen Kahiriri het die inisiatief verwelkom, maar die implementeringstrategie daarvan bevraagteken.

“Dis ’n wonderlike idee – ons het meer stadions nodig. Maar hoekom die wiel herontwerp? Hoekom wil ons nuwe stadions bou? Daar is reeds stadions by byna elke skool in hierdie land.

“Gee eerder hierdie geld vir die opgradering van stadions by die skole tot voordeel van die skool en gemeenskap. Jy kan nie maak asof daar niks was voordat jy daar was nie,” het Kahiriri gesê.

Met verwysing na aankope vir die Onafhanklikheidstadion wat nog gefinaliseer moet word, het Kahiriri gevra die regering moet die lug suiwer oor wat met Marley Tjitjo Architects, Denchi Consulting Engineers en Richard Frankle and Partners Quantity Surveyors gaan gebeur wat verlede Desember deur die ministerie aangewys is om die projek te lei.

“Is die verkrygingsproses omgekeer? Jy staan nie die oggend op en kanselleer die kontrak nie. Dit is ’n proses, hulle moet vir die nasie sê,” het hy aangedring.

“Nietemin waardeer ek die feit dat ons nou ’n regering het wat daaroor praat om sport te probeer prioritiseer en probeer om stadions te bou en verbeterings aan te bring.”

Op die vraag of vanjaar se begrotingstoewysing ambisieus genoeg is om die bou en opknapping van 13 stadions binne die voorgestelde tydraamwerk te begin, het die adjunkminister van sport, Dino Ballotti, navrae na die ministerie se woordvoerder verwys.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer