Namibië se sokkerspan vir die Streek 5 Jeugspele. Foto Verskaf
Namibië se sokkerspan vir die Streek 5 Jeugspele. Foto Verskaf

Span vir Streek 5 veilig in Malawi

Jeugspele
Tielman Van Lill
Namibië se span het gister in Lilongwe, Malawi, aangekom en hul vere begin regskud vir die Streek 5 Jeugspele wat Saterdag afskop.

Die Namibiese groep bestaan uit 102 mense van wie 70 atlete en 32 beamptes is.

Die sokkerspan het eerste aangekom. Hulle is onder leiding van die Namibiese Sportkommissie se hoofadministrateur, mnr. Freddy Mwiya, afrigter Marcelo Wakudumo, en sy assistent Gerald Guther, wat Sondag met die eerste groepie van sewe spelers opgedaag het.

Die res van die sokkerspan en die spanbestuurder het Maandag by hulle aangesluit. Hulle het saam met lede van die plaaslike reëlingskomitee, Chalo Chainda, Victoria Katukula en Norwin Oosthuizen opgedaag.

Me. Agnes Tjongarero, minister van sport, jeug en nasionale diens, vyf medici, die atletiekspan en die paralimpiesespan het Dinsdagoggend by hulle aangesluit.

Dinsdagmiddag het die netbalspan onder leiding van Isadore Nel aangekom.

Die swemspan en die tegniese beamptes van verskeie sportdissiplines sal vandag by die res van die span aansluit en die Namibiese groep voltallig maak.

Al hierdie atlete sluit aan by die missiehoof, Geramina Nailonga Haitembu, en algehele spanbestuurder, Bernadine Nengonya, wat verlede week geland het om vir die Namibiese atlete se aankoms voor te berei.

Haitembu het gister gesê alles verloop volgens plan.

“Afgesien van vervoerreëlings wat gefinaliseer moet word, het ons goed aangepas. Die organiseerders het ons verseker dat hulle die vervoerprobleem as ’n prioriteit sal hanteer. Die atlete het nog nie hul uniforms gekry nie, maar hulle sal dit na verwagting net voor die openingseremonie ontvang,” het sy verduidelik.

Haitembu het bygevoeg dié tipe uitdagings duik algemeen op, maar het die hoop uitgespreek dat dinge sal vlot sodra die wedstryde begin.

Mwiya en die direkteur van sport, Jo-Anne Manuel, sal die wedstryde as hooggeplaastes bywoon, terwyl Tjongarero Vrydag ’n Streek 5 ministersvergadering sal bywoon. Sy sal ook Saterdag die openingseremonie bywoon.

Die Malawiese reëlingskomitee het ’n verwelkomingseremonie vir gistermiddag gereël, waar al die spanne amptelik in die land verwelkom is voordat die spele Saterdag amptelik begin.

Namibië neem aan ses sportkodes deel, terwyl die Spele vir 12 dissiplines voorsiening maak.

Kommentaar

Republikein 2023-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer