Sensasionele Gillmer Horn (13) wys 300 in T20 is moontlik
Krieket
‘n Aanspraak op verskeie T20-wêreldrekords word nagespeur ná twee verstommende kolfbeurte deur die Windhoekse skoolseun Gillmer Horn die afgelope Saterdag.
‘n Driehonderdtal in T20-krieket is ongehoord en selfs ‘n tweehonderdtal 'n baie seldsame verskynsel in die sport se rekordboeke – maar die 13-jarige Horn het beide op dieselfde dag vermag.
Nege-en-vyftig sesse, 30 viere en 522 lopies in twee opeenvolgende T20-wedstryde op ’n enkele dag is waarmee Horn, die kaptein en paaltjiewagter van Windhoek Afrikaanse Privaatskool se o.13A’s, by die Prosperity Health T20 Skoolliga se twee o.13-finale in Olympia geëindig het.
In die oggendwedstryd teen die Noorde-streekwenner Edugate het Horn 303 nie uit nie van net 82 balle aangeteken (37 sesse en 17 viere), wat WAP gehelp het om 386/1 in 20 boulbeurte aan te teken en met ’n yslike 275 lopies te wen.
In die tweede eindstryd teen die kusstreekwenner Pro-Ed Akademie was Horn weer onkeerbaar. Hy het 219 nie uit nie gemoker van net 77 balle (22 sesse, 13 viere). Sy slaankrag en vernuf het sy span gehelp om 292/3 op stel en uiteindelik die wedstryd met 135 lopies te wen.
Volgens die webblad CricClubs se statistiek het Horn sedert sy o.11-dae reeds 10 297 lopies in 207 plaaslike wedstryde opgestapel, met 39 vyftigtalle en 31 honderdtalle.
Net in 2025 sover het hy reeds ses honderdtalle aangeteken en is hy die voorste lopiemaker in die o.13- én o.15 Sentraal-skoleligas.
Sy uitsonderlike talent gaan nie ongesiens verby nie. Die Hoër Jongenskool Paarl (Paarl Boys’ High) het Horn genader en van volgende jaar af sal hy sy skoolloopbaan in graad 8 by dié Wes-Kaapse spogskool voortsit.
Ook as rugbyspeler het Horn vanjaar vir Namibië by die o.13 Akademieweek in Oos-Londen uitgeblink – ongeag of hy as losskakel, heelagter of binnesenter ingespan is.
Alida Hill, WAP se uitvoerende hoof, sê: “Ons hier by WAP weet Gillmer is nie net talentvol nie, maar dat hy ook baie hard werk om die talente wat God vir hom gegee het, te ontwikkel.
“Hy pluk nou die vrugte van sy toewyding en selfdissipline vandat hy ’n klein seuntjie was.
“Gillmer, ons is trots op jou en gaan jou mis, maar ons gun jou die geleentheid om in SA te groei en te ontwikkel. Solank jy eendag vir die Eagles kom speel.”
Gillmer se ma, Welma Horn, deel ook haar trots.
“As ’n ma is jy altyd trots op jou kind en dankbaar as hulle goed doen in iets waarvoor hulle so lief is. Ek is bly dat hy sy loopbaan by WAP op ’n hoogtepunt kan afsluit.”
Gillmer se pa Hugo Horn het as rugbyspeler in drie Wêreldbeker-rugbytoernooie gespeel (1999, 2007 en 2011), terwyl hy vernoem is na sy oupa Willem Gillmer wat ‘n bedrewe skrumskakel vir Suidwes-Afrika was. Die sportbloed in sy are loop verder sterk met sy oom Freddie Gillmer as ‘n SWA-heelagter, terwyl sy ma Welma op skolevlak as netbalspeler vir Namibië gekies was en ook as hekkiesatleet uitgeblink het.
• Meer in vandag se Sport Wrap.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie