Die Namibiese skolebergfietsryspan gister in Brits afgeneem. Die seuns agter van links is Theo van Vuuren, Nathan Chase, Franco Thiel, Gero Friederich, Julius Braun, Marco Thiel en Roger Surén. Die meisies voor is Bianca Nell, Delsia van Vuuren, Rose-Marie Thiel, Marie Louw en Angela Kamati. Foto verskaf
Die Namibiese skolebergfietsryspan gister in Brits afgeneem. Die seuns agter van links is Theo van Vuuren, Nathan Chase, Franco Thiel, Gero Friederich, Julius Braun, Marco Thiel en Roger Surén. Die meisies voor is Bianca Nell, Delsia van Vuuren, Rose-Marie Thiel, Marie Louw en Angela Kamati. Foto verskaf

SA eindbyeenkoms gons oor Namibiërs

Bergfietsry
Heelwat van die NCF-span het podiumplekke by die SA skole-eindbyeenkoms verwerf – met veral die meisies se opgang 'n belowende teken.
Andrew Poolman
Die Namibiese Fietsryfederasie (NCF) se skolebergfietsspan het weer uitmuntend presteer by die Suid-Afrikaanse skolereeks se eindbyeenkoms wat by die Hoërskool Wagpos op Brits in die Noordwes-provinsies gehou is.

In die afsonderlike skole-kompetisie Saterdag (uitslae binne in Sport Wrap), het ses van die twaalf Namibiërs die podium gehaal en bykans almal was in die top-15 van hul onderskeie resiese.

Gister was egter die “groter” kompetisie in die provinsiale spanverband, eerder as in die kleure van die skool.

Uiteindelik was die Namibiërs op beide dae die span wat almal aan die praat gehad het met hul prestasies.

Die hoogs talentvolle Roger Surén se oorwinning in die seuns onder 16-resies was nie ’n groot verrassing nie, nadat hy reeds in SA Beker--byeenkomste vroeër vanjaar die buurland se ontluikende jaers gewys het waartoe hy in staat is en later selfs kompetisies in Switserland en elders in Europa gaan wen het.

Die Suid-Afrikaners was gister uiters vasberade en drie jaers (uit die 45 by die wegspringstreep) het tot die laaste van die drie baanrondtes nog binne trefafstand van Surén gebly, voor ’n hewige aanval waartydens die Namibiër toe aan die voorpunt weggebreek het om uiteindelik met sowat tien sekondes te wen.

Hitte was ’n faktor in al gisteroggend se resiese en selfs terwyl die temperatuur 26 grade gewys het, het teenwoordiges gesê dit voel soos 37 grade in die sonskyn.

Marco Thiel se prestasie om die seuns onder 15-titel te wen, was ook ’n persoonlike deurbraak. Hy het agterna gesê die vorige dag se derde posisie in die resies vir sy skool DHPS het hom gemotiveer om sy kans aan te gryp met ’n sterk eindpoging. In dieselfde ouderdomsresies gister, met 55 ryers, het Nathan Chase (St. George’s) vanaf die negende posisie opgang gemaak om sewende te eindig.

Julius Braun (DHPS) is tydens sy seuns o.14-resies drie keer van sy fiets afgestamp, maar het nietemin vasgebyt om derde klaar te maak en op die podium te eindig. Sy landgenote Theodor van Vuuren was agtste en Gero Friederich 13de, nadat laasgenoemde by die wegspringstreep agter ’n onmiddellike groepbotsing vertraag is.

Marie Louw (Gobabis Gimnasium) was tiende in haar o.18-wedren, waarin Angela Kamati 14de uit die 28 ryers klaargemaak het. Beide het sowat twee minute vinniger as die vorige dag gery.

By die meisies o.14 het Bianca Nell (Windhoek Gimnasium) ook deurlopend goed gery om vierde van die 28 ryers vanoor Suid-Afrika klaar te maak. Rose-Marie Thiel was tweede in haar o.15-wedren.

Delsia van Vuuren (meisies o.16), nog een wat tevore suksesvol in Suid-Afrika meegeding het, was deurgaans in die topdrie voordat KZN se Erinn Mackridge haar in ’n naelresies eindstreep toe net-net geklop het.

Erica Nell, lid van die FNB Skole-reeks se organiserende komitee wat die groep vergesel het, sê: “Wat ’n voorreg om deel van die naweek te kon wees. Die kinders is wonderlik, so talentvol en nederig; al die ouers en afrigters kan so trots wees. Die hele dorp het gegons oor die Namibiërs hierdie naweek.”

Ouers van die ryers het hul waardering uitgespreek vir die FNB Skoleliga, waarsonder die geleentheid in Suid-Afrika nie moontlik kon gewees het nie. Die NCF se bydrae tot die onkoste, asook Windhoek Gimnasium se verskaffing van ’n bussie het ook nie ongesiens verbygegaan nie.

“Welgedaan aan elke ryer. Julle is ’n inspirasie en verskaf motivering vir elkeen wat ná julle kom. Dankie ook aan die ondersteuningspan wat die naweek soveel pret vir die kinders gemaak het; asook aan elkeen wat voortdurend bydra om fietsry as ’n sport te ontwikkel,” het Bronwen Chase, nog ’n ouer, gesê.

Enkele ander Namibiërs het die reis vanweë skoolverpligtinge misgeloop, insluitend die o.18-seuns Kevin Lowe en Theuns van der Westhuizen wat ook as baie sterk ryers bekend is.

Hans du Toit, die Namibiese fietsry-afrigter wat ook naby met die individue werk, het in sy gelukwensing gesê die komitee wat by dié program betrokke is, kan weet dat geen ander Namibiese sport met hul vlak van eindresultate kan vergelyk nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer