Rit oor die randjies weer aan

Bergfietsry
Die Capricorn-groep in samewerking met PSG is weer die borge van die naweek se bergfietspret aan die oostekant van die hoofstad.
Tielman Van Lill
Verlede jaar se eerste Ride the Ridges-bergfietsren by Heja Lodge en omgewing oor drie dae en drie skofte was ’n reusesukses en vanaf Vrydag sal kanniedood bergfietsentoesiaste opnuut die geleentheid kry om dié unieke ervaring te takel.

Herbert Peters en Anri Krugel het laasjaar koning gekraai en die toer in ’n totale tyd van onderskeidelik 6 uur 11 minute 30 sekondes en 6 uur 19 minute 21 sekondes gewen.

Ongeveer 200 deelnemers sal Vrydag van 15:00 by Heja Lodge vir die eerste skof oor 25 kilometer wegspring. In 2022 is dié eerste dag se skof Chase the Sun genoem. Die eerste ryers behoort teen sesuur by Heja Lodge in te klok waarna die daaglikse prysuitdeling dan sal plaasvind.

Saterdag se tweede skof sal ’n taaier uitdaging aan die ryers oor 68 km bied, wat tussen 07:30 en 07:45 wegspring. Die daaglikse prysuitdeling vind om 14:00 plaas en bied genoeg tyd vir die geduldigste ryers om die roete te voltooi en die natuurtonele te geniet.

Sondag se laaste skof oor 30 km begin vanaf 08:00 en die finale prysuitdeling kom teen twaalfuur aan die beurt.

Marlize Horn, uitvoerende bestuurder vir handelsmerk- en korporatiewe sake by die Capricorn-groep, het ná laasjaar se byeenkoms gesê: “Capricorn is trots op sy vennootskap met PSG om hierdie unieke skofwedren aan te bied.

“Die visie van PSG en Capricorn was om ’n wêreldklas resies te bied met ’n unieke ervaring vir ryers rondom die hoofstad en ons is tevrede dat ons dit kon regkry.

“Die kompetisie het ons verwagtinge verreweg oortref en ons is opgewonde oor die vele idees wat reeds bespreek is om selfs ’n beter ervaring vir deelnemers in 2023 te bied.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer