Rekordhouer terug vir 21 km in Kaap

Padwedlope
Terwyl Elroy Gelant vol vertroue is om vir Suid-Afrika ’n oorwinning in die manswedloop by Sondag se Twee Oseane halfmarathon in Kaapstad te verseker, is Namibië se Helalia Johannes ’n sterk gunsteling in die vroue se 21 km. Die Cape Times berig die 42-jarige Namibiër se kanse word verbeter deur die afwesigheid van verlede jaar se wenner Fortunate Chidzivo (Zimbabwe) en die Suid-Afrikaners Glenrose Xaba en Nolene Conrad. Johannes, wie se beste tyd in ’n halfmarathon 1:07:49 is, het 19 jaar gelede in haar debuut (2004) in die Twee Oseane se halfmarathon 17de klaargemaak en die volgende jaar moes sy voortydig uit die wedloop onttrek. Met vyf oorwinnings (2006, 2007, 2009, 2011 en 2019) het sy groot indruk gemaak en op merkwaardige wyse by vier geleenthede rekords opgestel, insluitend vier jaar gelede se wentyd 1:10:29 wat steeds die bestaande rekord is. Die Twee Oseane ultra-marathon oor 56 km, met ’n verwagte 13 000 hardlopers, is Saterdag (regstreeks op SuperSport 04:45–11:30), terwyl die halfmarathon Sondag volgens berigte bykans 16 000 inskrywings gelok het. Foto argief

Kommentaar

Republikein 2025-07-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer