Reeks teen Ierland-A vat vlam

Krieket
Tielman van Lill
Die krieketspanne van Ierland A, bekend as die Wolves, en Namibië A speel vandag vanaf 10:00 by Wanderers in hul tweede Castle Lite T20-wedstryd in die reeks van drie.

Die laaste T20 is môre vir dieselfde tyd en veld geskeduleer. Volgende week lê vyf eendagwedstryde oor 50 boulbeurte per span voor.

Die Namibiërs het ’n voorsprong van 1-0 in die T20-reeks nadat hulle Sondag by Wanderers ’n ietwat onbevredigende voortydige oorwinning volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode behaal het toe weerlig oor die hoofstad die spel kortgeknip het.

Die tuisspan se kolfbeurt was op 41/4 in 7 boulbeurte op ’n mespunt gebalanseer nadat hulle die Wolves tot 90 almal uit in 16.5 boulbeurte beperk het. wedstryd geklop, toe ’n einde aan die verrigtinge gemaak het.

Met ligte reën wat die begin van die kragmeting vertraag het, is die boulbeurte van 20 tot 18 per span verminder. Beide spanne is deur gesoute spelers en minder ervare manne verteenwoordig.

Vir Namibië het Dylan Leicher, Shaun Fouché en JC Balt hul T20-debuut gemaak. Kaptein JJ Smit met 86 T20’s op sy getuigskrif kon darem ook op die ervaring van Picky Ya France (54), Ben Shikongo (36), Tangeni Lungameni (31), Nicol Loftie-Eaton (31), Karl Birkenstock (20) en paaltjiewagter Lo-han Louwrens (11) steun. Die span se somtotaal T20-wedstryde het op 269 gestaan.

Smit het die Iere, met heelwat meer ondervinding (in totaal 373 T20-wedstryde) ingestuur om eerste te kolf. Van hul mees ervare toerlede sluit in Shane Getkate (95 wedstryde), die Suid-Afrikaans gebore Curtis Campher (32), die regteram snelbouler Peter Chase (46) asook die kaptein en paaltjiewagter Neil Rock (47).

Aanvangskolwer Murray Commins en Campher op vier het egter die enigste noemenswaardige kolfbydraes behaal, onderskeidelik 29 en 22 lopies. Niemand anders van die Wolves kon dubbelsyfers haal nie.

Val van paaltjies: 1/0 (Lawlor, 0.3 bb), 2/24 (McCollum, 4.5), 3/48 (Commins, 7.6), 4/59 (Campher, 9.3), 5/68 (Doheny, 10.6), 6/68 (Rock, 11.2), 7/73 (Getkate, 12.4), 8/84 (Hume, 15.3), 9/90 (Kennedy, 16.4), 10/90 (White, 16.5).

Pikky Ya France het met sy draaiballe ’n netjiese boulskof gelewer (3/12 in 4, 1 leeg) en ook twee vangkanse benut om as speler van die wedstryd aangewys te word. Shikongo (3/14 in 3.5) en Loftie-Eaton (2/22 in 3) hul ervaring gewys. Lungameni (1/12 in 2) en Ngupita (1/19 in 3) was ook doeltreffend, met ongelukkig geen boulkans vir die jong Leicher om voort te bou op sy nege paaltjies en driekuns laas naweek in die Richelieu T20-toernooi nie.

SENUAGTIGE BEGIN

Die jaagtog na die klein totaal het egter op ’n senuagtige noot begin toe Namibië-A se topdrie kolwers binne die eerste drie beurte moes terugstap.

Louwrens (6 van 5 balle, 1x4) wat Sondag by United 62 lopies geslaan het, het dié keer nie weggekom met sy ambisieuse trekhou nie en is op die grenstou uitgevang.

Balt (0 van 5 b), wat as veldwerker ’n vroeë vangskoot op die grens laat val het voor hy kort daarna ’n puik kans raakgevat het om die gevaarlike Commins se beurt te beëindig, bly ’n talentvolle bouler en kolwer en ’n belegging vir die toekoms.

Loftie-Eaton op drie is vir ’n nulletjie met die eerste bal teruggestuur – ’n jammerte nadat hy vroeër vandeesmaand in die Verenigde Arabiese Emirate vir vyftigtalle van 73 en 63 teen Oman in internasionale eendagwedstryde ingegrawe het.

Fouché op vier (12 van 15 b, 1x6) is uitgevang kort nadat hy naelskraaps ’n ses deur die hande van die duikende veldwerker op die grenstou gestuur het.

Birkenstock (16* van 13 balle) het hom oënskynlik begin tuismaak met houespel propvol selfvertroue, insluitend ’n skephou oor die paaltjiewagter vir een van sy drie grenshoue is een van die spelers wat enige span komplimenteer. Veral toe kaptein Smit (4* van 3 b) se aansluiting voor die penne kon die skaal gou in die tuisspan se guns geswaai gewees het, maar weerlig en naderende swaar weer het die skeidsregters genoop om spel te beëindig en uiteindelik noodgedwonge die DLS-syfers te vergelyk.

Leicher, Ya France, Lungameni, Shikongo en Ngupita was die tuisspan se ongebruikte kolwers.

Val van paaltjies: 1/1 (Balt, 0.6), 2/6 (Loftie-Eaton, 1.4), 3/8 (Louwrens, 2.4), 4/34 (Fouché, 6.1).

Chase (2/2 in 2) was die Ierse se giftigste bouler, gevolg deur Campher (1/7 in 2). Hume (1/18 in 2) en Getkate (0/11 in 1) was duurder.

JONGES VOL POTENSIAAL

Pierre de Bruyn, hoofafrigter van die Eagles het aan die koerant gesê: “Ek dink ons het baie goed geboul om die Iere vir 90 uit te kry. Picky en Ben het ons planne met puik vaardigheid uitgevoer. Dis spelers wat in onlangse tye op die kantlyn moes sit en nie gereeld speeltyd gekry het nie, maar dis ’n bouleenheid wat ek ’n kans wil gee om hulle te bewys.

“Karl, Picky, Ben, Mauritius en Tangeni het hul merk gemaak en dit was lekker om te sien. My voorneme is uiteraard om elkeen teen die Iere speelkans te gee om te sien hoe ons diepte lyk.

“Namibië se diepte moet vergroot word. Ek kan nie vir altyd net met 15 of 16 nasionale spelers werk nie. Wanneer ’n span gekies moet word, is die ideaal dat drie of vier spelers in elke posisie vir ’n plek meeding en nie net een nie.

“Ongelukkig ken ons jong spelers net klubkrieket en die standaard is ver benede die internasionale spel. Opwindende tye lê vir ons jong spelers voor. Geduld is die wagwoord, want daar sal foute gemaak word, maar met die tyd sal hulle leer en ondervinding opdoen.”

De Bruyn reken die T20 Richelieu franchise-toernooi sal opnuut opwinding lewer.

“Ongelukkig het die reën ons op die eerste naweek ’n paar wedstryde gekos. Ten minste is ’n paar goeie vertonings gelewer.

“Lo-han Louwrens se 64 lopies was ’n baie goeie beurt, veral in die rol wat hy gespeel het. Die jong Dylan Leicher se vyf paaltjies in ’n T20 wil gedoen wees. Hy het geweldige potensiaal en ek moet myself heeltyd herinner dat hy nog ’n skoolseun is.

“Die komende naweek is ’n groot gebeurtenis vir baie spelers met die T20 Richelieu-kompetisie wat hervat. Dis opnuut ’n geleentheid vir spelers om hand op te steek. Ek sê gereeld vir spelers dis ’n Wêreldbekerjaar en jy weet nooit of jy gekies kan word nie. Hulle moet elke kans benut en hulself bekend maak.”

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer