Die Namibiese manshokkiespan tydens ’n binnenshuise reeks teen Suid-Afrika verlede jaar in Durban. Foto Christopher Murphy
Die Namibiese manshokkiespan tydens ’n binnenshuise reeks teen Suid-Afrika verlede jaar in Durban. Foto Christopher Murphy

Reeks in Kaapstad proeflopie vir WB

Hokkie
Andrew Poolman
Doelwagter en kaptein DJ Strauss lei ’n gevestige Namibiese binnenshuise manshokkiespan wat gister aangekondig is vir die reeks van vyf toetse teen Suid-Afrika in Kaapstad.

Beide spanne is ernstig aan die voorberei op die naderende Wêreldbekertoernooi wat in Februarie in Suid-Afrika aangebied word.

Die Suid-Afrikaners het reeds einde Oktober ’n reeks van vyf wedstryde in Windhoek kom speel. Strauss en sy manne het toe vir die eerste keer in die geskiedenis ’n oorwinning teen Suid-Afrika behaal (6-5 in die openingswedstryd), voor ’n ewe dramatiese gelykwedstryd met 6-6 waarin Namibië moes terugveg om die laaste drie doele aan te teken.

Die Proteas het hierna met oorwinnings van 7-3, 7-3 en 6-3 die oorhand gekry om die reeks met 3-1 te beklink. Die voorste doelskieters was die broers Mustapha Cassiem (12) en Dayaan Cassiem (7), voor Namibië se Fagan Hansen (5).

Die 31-jarige kaptein D.J. Strauss, was die gesamentlike speler van die reeks met Suid-Afrika se Jethro Eustice.

Met 42 toetse sover het Strauss die meeste aan die Namibiese kant, hoewel die Namibiërs die afgelope paar jaar toenemend blootstelling kry en tans ’n gemiddeld van omtrent 20 internasionale wedstryde per speler handhaaf.

Die reeks in Kaapstad, by die Wynberg militêre basis wat as St. Cyprians-klub se baan bekend staan, begin op Vrydag 16 Desember, met wedstryde daagliks tot Dinsdag 20 Desember.

Die Namibiese span is:

DJ Strauss (kaptein, doelwagter, DTS)

Richter van Rooyen (doelwagter, Saints)

Pieter Jacobs (Windhoek Old Boys)

Dakota Hansen (Saints)

David Britz (DTS)

Nico Neethling (Saints)

Dylan Finch (Windhoek Old Boys)

Liam Hermanus (Saints)

Percy Barthram (DTS)

Fagan Hansen (Saints)

Brynn Cleak (Saints)

John-Paul Britz (DTS)

Die bestuurspan is Trevor Cormack (afrigter), Jerrica Bartlett (hulpafrigter), Mary Hansen (spanbestuurder), Renier van Rooyen (video-ontleder), Maarten Bosman (tegniese adviseur) en Jason Kleinsmith (fisioterapeut).

Kommentaar

Republikein 2023-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer