Janco Venter (met die bal) in aksie vir Namibië teen die Springbokke in ’n kragmeting in die Wêreldbeker-toernooi in 2019 in Japan. Foto Gallo Images
Janco Venter (met die bal) in aksie vir Namibië teen die Springbokke in ’n kragmeting in die Wêreldbeker-toernooi in 2019 in Japan. Foto Gallo Images

Poubloues pak Namibië in Windhoek

Rugby
Marnus Kok
Griekwas gaan aanstaande maand hul vlerke sprei en teen Namibië se rugbyspan in ’n kragmeting in Windhoek te staan kom.

Die wedstryd, wat op 5 November plaasvind, gaan die Biltongboere help om hulle vir hul internasionale verpligtinge volgende maand voor te berei.

Namibië sal ook volgende jaar in die Wêreldbekertoernooi in Frankryk in aksie wees.

Twee spelers van Griekwas, Janco Venter (losvoorspeler) en die slot Johan Retief, is Namibiese toetsspelers. Hulle sal volgende maand vir hul geboorteland teen die Poubloues diens doen.

Pieter Bergh, afrigter van Griekwas, het gemengde gevoelens ná sy span se oorwinning oor ’n Bulle-vyftiental Woensdag in die Toyota-uitdaagreeks in Bloemfontein gehad. Die Noord-Kapenaars het met 41-7 gewen.

“Ons is tevrede met ons vordering, maar ons is ver van waar ons wil wees,” het Bergh Donderdag gesê.

“Ons was baie teleurgesteld met ons vertoning in die eerste helfte. Jy kan nie sewe lynstane in een helfte verloor en dan ook sewe strafskoppe in die eerste 17 minute afstaan nie.

“Dan gaan jy nooit in die wedstryd wees nie en ook nie ritme kry nie. In die tweede helfte was ons dissipline baie beter en dit het in die skrums ook beter gegaan.

“Ons lynstane het steeds ’n bietjie gelol, maar ons het ons voete beter gevind omdat ons nie so baie strafskoppe afgestaan het nie.”

Bergh sê sy span se spel “in die vaste fasette moet verbeter”.

Griekwas se laaste wedstryd in die Toyota-uitdaagreeks is op 21 Oktober teen die Cheetahs in Bloemfontein.

Bergh-hulle wag nog op uitsluitsel oor die erns van Werner Gouws (losvoorspeler) se besering.

Gouws was Woensdag vir ’n skandering nadat hy verlede week teen die Opkomende Ierse span sy elmboog beseer het.

Venter, wat harsingskudding teen die Iere opgedoen het, kan moontlik gereed wees om vir die wedstryd teen die Cheetahs oorweeg te word.

Die verwagting is dat Jay-Cee Nel (senter), wat Woensdag die veld met ’n skouerbesering verlaat het, wel teen die Vrystaters sal kan speel.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-11-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer