Tangeni Lungameni met ses paaltjies was Namibië se blinkste bouler. Foto Tielman van Lill
Tangeni Lungameni met ses paaltjies was Namibië se blinkste bouler. Foto Tielman van Lill

PNG laat hulle nie boelie

Tangeni Lungameni, Ruben Trumpelmann en Gerhard Erasmus was gister die ligpunte teen ‘n omgekrapte PNG.
Tielman Van Lill
Dit was ’n heel ander Papoea-Nieu-Guinee wat gister die Richelieu Eagles teen alle verwagtinge in tot in die diep water gesleep het in hul Wêreldbeker Liga 2-wedstryd by Wanderers.

Die Namibiërs (241/7 in 48) het uiteindelik wel oorleef om met drie paaltjies teen PNG te wen – grootliks te danke aan ’n puik onoorwonne kolfbeurt deur Ruben Trumpelmann.

Die Eagles kan hulle weer vetsmeer vir ’n toets in hul herontmoeting komende Saterdag teen die Verenigde State van Amerika, teen wie hulle hul openingswedstryd van die Castle Lite-reeks verloor het.

Dinsdag kon PNG skaars 149 lopies teen die VSA behaal en verlede Saterdag het Namibië hulle vir 107 in 38.5 boulbeurte uitgeboul.

Tangeni Lungameni het gister met sy beste vertoning in ’n internasionale eendagwedstryd uitgeblink deur ses paaltjies in te oes (6/42 in 9, 4.66).

Trumpelmann het vier slagoffers kleedkamer toe gestuur (4/53 in 9.2 bb) en boonop 55 onoorwonne lopies gemoker.

Gerhard Erasmus het ook ’n ware leiersbeurt gespeel, nadat die topkolwers nie op dreef kon kom nie.

Die topvier kolwers van PNG (236 lopies almal uit in 49.2 boulbeurte) het gister 203 lopies tussen hulle aangeteken.

Hoewel vyf van die Eagles-boulers nie ’n paaltjie kon oes nie, was hul ekonomie geensins vrot nie. JJ Smit (4.33 in 6 bb), Bernard Scholtz (4.12 in 8 bb), Jan Frylinck (3.66 in 6 bb), Gerhard Erasmus (3 in 3 bb) en Picky Ya France (5.12 in 8 bb) het min of geen hulp van die kolfblad gekry nie.

Hoekom Erasmus, Frylinck en Smit nie meer geboul het nie, is ’n ope vraag.

Tony Ura (57 van 70 balle, 8x4, 1x6, gevang Erasmus, geboul Trumpelmann) en Kiplin Doriga (50 van 92 b, 3x4, 2x4, been voor paaltjie Lungameni) het ’n 104-vennootskap bewerkstellig.

Hierna het Sese Bau (37 van 49 b, 4x4, gevang Zane Green, geboul Lungameni) en Assad Vala (59 van 53 b, 5x4, 3x6, gevang Ya France, geboul Trumpelmann) ewe lustig die septer geswaai.

Namibië moes teen net 4.74 per boulbeurt vir ’n oorwinning kolf. Met vier paaltjies staande en 90 balle oor, moes hulle 76 teen 5.06 aanteken.

In teenstelling het Namibië sy topdrie binne 12.2 bb vir 40 lopies verloor (Lo-han Louwrens 2, Divan la Cock 10 en Michael van Lingen 16).

Jan Frylinck (10) en JJ Smit (6) se vertrek het Namibië op 70/5 ná 19.3 boulbeurte gelaat.

Erasmus het saam met Zane Green (20 van 21 b, 2x4) die telling tot op 109 gevoer, maar dit was Trumpelmann se aansluiting (55 nie uit nie van 60 b, 2x4, 2x6) wat briljant in ’n 76-lopievennootskap gevaar het.

Erasmus (71 van 96 b, 7x4, 2x6) se vertrek (185/7 ná 38.5 bb) was ’n terugslag, maar Pikky Ya France het vasgeskop vir 23* van 32 b, 1x6) in ’n 53-vennootskap. Ya France het die sege met ’n sierlike ses oor die bykantgrens afgesluit.

Pierre de Bruyn, hoofafrigter van Namibië, sal beslis drie lang slapelose nagte hê voor die VSA-wedstryd Saterdag.

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer