Parker voeg die Gold Cup by

Gholf
Vir sy nuutste sege moes hy op dag twee 'n agterstand van vyf houe inhaal.
Andrew Poolman
Todd Parker se tweede opeenvolgende oorwinning in ’n toernooi van die Namibiese Amateur Gholfunie (Nagu) is met ’n puik ommekeer in die laaste ronde behaal, toe hy die oggend van die tweede dag met vyf houe agter was, maar uiteindelik met vyf houe gewen het.

Die 17-jarige het Sondagmiddag die blink wennerstrofee van die Jack Daniel’s Gold Cup by die baan van die Windhoek Buiteklub in ontvangs geneem.

In die laaste twee maande het hy ook reeds die Windhoek Ope (geborg deur Ongos Valley), die Windhoek Buiteklub se klubkampioenskap en die Omeya Junior Ope gewen.

In aangename, matige weersomstandighede het Parker die eerste twee rondes Saterdag met 146 houe voltooi – vyf houe agter Walter Heibeb (141). Die oornagvoorloper van Tsumeb moes egter ná sy laaste ronde van 80 houe met die algehele tweede posisie tevrede wees.

Die Gold Cup, wat sedert 1964 gespeel word, moes die afgelope twee jare gekanselleer word.

Altesame 74 spelers, insluitend vroue en juniors, het meegeding. Spelers in die A- en B-afdelings het 54 putjies oor twee dae gespeel (36 en 18) terwyl die C-afdeling oor 36 putjies (18 per dag) beslis is. Spelers van so ver as Walvisbaai, Swakopmund, Tsumeb, Grootfontein, Oranjemund, Oshakati, Omeya en Windhoek het ingeskryf.

Me. Kim Badenhorst het namens die Gold Cup se nuwe hoofborg CIC Investments bevestig dat Jack Daniel’s volgende jaar sy borgskap sal voortsit.

Die voorste uitslae was soos volg:

Algeheel beste bruto: 1 Todd Parker (216), 2 Walter Heibeb (221).

Algeheel beste netto: 1 Mervin Nangolo (207), 2 Joseph Martin (207).

A-afdeling beste bruto: 1 Paulus Shimoshili (226), 2 Elias Mulombwelwa (228). A-afdeling beste netto: 1 Jackson Kawaya (215), 2 Wensley Haseb (218)

B-afdeling beste bruto: 1 Gavin van Wyk (250), 2 Leevi Tshoopara (256). B-afdeling beste netto: 1 Sakeus Matheus (222 uittel), 2 Toady Gurirab (222).

C-afdeling beste bruto: 1 Johannes Hesekiel (178), 2 Izak van Tonder (181) C-afdeling beste netto: 1 Raymond van Zyl (145), 2 Chris van Lill (147).

Vroue (stablefordpunte): 1 Sesilia Nkoshi (77), 2 Evelyn Paulino (72), 3 Wilhelmina Maree (71)

Juniors (stablefordpunte): 1 Quade Beukes (81), 2 Stefan Bergh (64), 3 Tapi Katsvara (47).

Pryse is Sondag losgeslaan met houe naaste aan die pen deur Burger Bergh (putjie 3), Boni Paulino (putjie 9), Jolene van Schoor (putjie 13) en Bonnie Hoabeb (putjie 17).

• Een Nagu-toernooi vir die jaar bly nog oor, naamlik die Rössmund Ope by Swakopmund op 10 en 11 Desember.

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer